Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 23:2-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Toe het die hoofpriester Ananias die mense wat by Paulus staan, beveel om hom op die mond te klap.

3. Daarop sê Paulus vir hom: “God gaan jóú klap, jou skynheilige! Hier sit jý om my volgens ons wet te verhoor, maar in stryd met die wet beveel jy dat ek geklap moet word!”

4. Die mense by Paulus sê toe vir hom: “Dis die hoofpriester van God wat jy so uitskel!”

5. “Jammer, broers. Ek het nie besef hy is die hoofpriester nie,” het Paulus gereageer. “Daar staan inderdaad geskryf: ‘’n Leier van jou volk mag jy nie beledig nie.’”

6. Paulus het besef dat ’n deel van die Joodse Raad Sadduseërs was en ’n ander deel Fariseërs, en daarom roep hy toe in die raad uit: “Geagte broers, ek is ’n Fariseër en ek is uit ’n Fariseërfamilie. Dit is oor my toekomsverwagting oor die opstanding van die dooies dat ek verhoor word!”

7. Toe hy dit sê, het die Fariseërs en die Sadduseërs onder mekaar begin stry, en die vergadering het verdeeld geraak,

8. want die Sadduseërs sê daar is geen opstanding nie, en ook nie engele en geeste nie; die Fariseërs glo weer dat al drie bestaan.

9. ’n Hewige woordewisseling het toe ontstaan. Sommige van die skrifkenners uit die Fariseërparty het opgespring en baie heftig hulle saak gestel: “Ons vind niks slegs in hierdie man nie,” het hulle geskreeu. “Miskien het ’n gees of ’n engel met hom gepraat.”

10. Die bakleiery het só erg geword dat die offisier oor duisend man bang was dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarom het hy sy eenheid beveel om hom tussen hulle te gaan uithaal en terug te bring kaserne toe.

11. Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: “Hou moed! Net soos jy hier in Jerusalem oor My getuig het, só moet jy ook in Rome doen.”

12. Toe dit dag word, het die Jode ’n komplot gesmee. Hulle het gesweer dat hulle nie sou eet of drink voordat hulle Paulus doodgemaak het nie.

13. Meer as 40 mense het só saamgesweer.

14. Hulle het na die priesterhoofde en die familiehoofde gegaan en gesê: “Ons het ons met ’n eed verbind om nie aan iets te proe totdat ons Paulus dood het nie.

15. Julle en die Joodse Raad moet die offisier oor duisend man laat weet dat Paulus weer voor julle gebring moet word. Julle kan voorgee dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is reg om hom voor sy aankoms permanent uit die weg te ruim.”

16. Paulus se susterskind het egter gehoor van die hinderlaag. Hy is na die kaserne toe en het by die barakke ingekom en Paulus ingelig.

17. Paulus roep toe een van die offisiere oor honderd man en sê vir hom: “Vat hierdie jong man na die offisier oor duisend man toe, want hy het iets om aan hom te rapporteer.”

18. Hy vat hom toe na die offisier oor duisend man toe en sê: “Paulus, die gevangene, het my geroep en my gevra om hierdie jong man na u toe te bring omdat hy iets het om aan u te rapporteer.”

19. Die offisier vat hom toe aan die hand, gaan met hom eenkant toe en vra vir hom: “Wat is dit wat jy aan my wil rapporteer?”

20. Hy het geantwoord: “Die Jode het ooreengekom om u te vra om Paulus môre weer voor die Raad te bring, kwansuis om sy saak noukeuriger te ondersoek.

21. U moet u nie deur hulle laat oorreed nie, want meer as 40 mans uit hulle geledere lê hom voor om hom te vermoor. Hulle het gesweer dat hulle nie sal eet of drink voordat hulle hom permanent uit die weg geruim het nie. Hulle is gereed en wag nou net vir instemming van u kant af.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 23