Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 6:11-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Maar jy, Timoteus, man van God; vlug weg van al hierdie bose dinge, en volg na wat reg en goed is. Beywer jou vir ’n lewe volgens die wil van God, gekenmerk deur toewyding, geloof, liefde, volharding en deernis.

12. Stry die goeie stryd vir dit waarin ons glo. Hou stewig vas aan die ewige lewe wat God jou gegee het, en wat jy so opreg bely het voor baie getuies.

13. En voor God wat aan alles lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius Pilatus afgelê het, druk ek dit jou op die hart

14. dat jy jou opdrag stiptelik en onberispelik uitvoer totdat ons Here Jesus Christus weer verskyn.

15. Want op die bestemde tyd sal God Jesus Christus openbaar, Hý, die geseënde en alleen Magtige, die Koning van die konings en die Heer van die here.

16. Hy alleen besit onsterflikheid, en bewoon die ontoeganklike lig. Niemand het Hom ooit gesien of kan Hom sien nie. Hom kom toe die eer en die ewige krag.

17. Sê aan hulle wat ryk is in hierdie wêreld om nie trots te wees en op hulle geld te vertrou wat spoedig sal verdwyn nie. Maar hulle vertroue moet in die lewende God wees wat aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet.

18. Sê hulle moet hulle geld gebruik om goed te doen. Hulle moet ryk wees in goeie dade en moet ruim gee aan dié in nood; hulle moet altyd gereed wees om wat God aan hulle gegee het, met ander te deel.

19. Deur dit te doen, sal hulle vir hulle ’n skat opbou – ’n goeie fondament vir die toekoms sodat hulle die egte lewe kan ontvang.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 6