hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Gelowiges wat slawe is, moet aan hulle eienaars volle respek betoon sodat die Naam van God en sy leringe nie beskaam word nie.

2. As jou eienaar ’n mede-Christen is, is die feit dat julle geloofsbroers is, geen verskoning om oneerbiedig op te tree nie. Julle behoort dan selfs harder te werk, want dan is dit gelowiges en geliefdes wat uit julle kwaliteitwerk voordeel trek.Onderrig hierdie waarhede, Timoteus, en moedig almal aan om dit te gehoorsaam.

In kontras met die vals

leerstellings bring die ware

godsdiens geestelike rykdom

3. Sommige vals leraars ontken dalk hierdie dinge, maar dit is die gesonde, heilsame leer van die Here Jesus Christus en dit is die fondament vir ’n godvresende lewe.

4. Enigiemand wat enigiets anders leer, is nie net verwaand nie, maar ook dom. Só ’n mens het ’n ongesonde begeerte om oor die betekenis van woorde te kibbel. Dit veroorsaak argumente wat eindig in jaloesie, stryd, beledigings en bose agterdog.

5. Hierdie mense veroorsaak altyd moeilikheid. Hulle gedagtes is korrup, en hulle praat nie die waarheid nie. Vir hulle is godsdiens net ’n manier om ryk te word.

6. Tog is ware godsdiens saam met tevredenheid ’n groot rykdom.

7. Ons het immers niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons kan ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie.

8. As ons dus genoeg kos en klere het, laat ons tevrede wees.

9. Maar mense wat begeer om ryk te wees, val in versoeking en trap in die strik van baie dwase en skadelike begeertes wat hulle in die verderf en ondergang stort.

10. Want die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad. En sommige mense wat geld begeer, het weggedwaal van die geloof en hulleself met baie ellende deurboor.

Waak met ’n heilige erns oor

wat God aan jou toevertrou het!

11. Maar jy, Timoteus, man van God; vlug weg van al hierdie bose dinge, en volg na wat reg en goed is. Beywer jou vir ’n lewe volgens die wil van God, gekenmerk deur toewyding, geloof, liefde, volharding en deernis.

12. Stry die goeie stryd vir dit waarin ons glo. Hou stewig vas aan die ewige lewe wat God jou gegee het, en wat jy so opreg bely het voor baie getuies.

13. En voor God wat aan alles lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius Pilatus afgelê het, druk ek dit jou op die hart

14. dat jy jou opdrag stiptelik en onberispelik uitvoer totdat ons Here Jesus Christus weer verskyn.

15. Want op die bestemde tyd sal God Jesus Christus openbaar, Hý, die geseënde en alleen Magtige, die Koning van die konings en die Heer van die here.

16. Hy alleen besit onsterflikheid, en bewoon die ontoeganklike lig. Niemand het Hom ooit gesien of kan Hom sien nie. Hom kom toe die eer en die ewige krag.

17. Sê aan hulle wat ryk is in hierdie wêreld om nie trots te wees en op hulle geld te vertrou wat spoedig sal verdwyn nie. Maar hulle vertroue moet in die lewende God wees wat aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet.

18. Sê hulle moet hulle geld gebruik om goed te doen. Hulle moet ryk wees in goeie dade en moet ruim gee aan dié in nood; hulle moet altyd gereed wees om wat God aan hulle gegee het, met ander te deel.

19. Deur dit te doen, sal hulle vir hulle ’n skat opbou – ’n goeie fondament vir die toekoms sodat hulle die egte lewe kan ontvang.

20. Timoteus, waak oor wat God aan jou toevertrou het. Vermy goddelose, dwase praatjies met hulle wat jou met hulle sogenaamde kennis teenstaan.

21. Sommige mense het van die geloof afgedwaal deur sulke dwaasheid na te volg.Mag God se genade met julle almal wees.