Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 6:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Gelowiges wat slawe is, moet aan hulle eienaars volle respek betoon sodat die Naam van God en sy leringe nie beskaam word nie.

2. As jou eienaar ’n mede-Christen is, is die feit dat julle geloofsbroers is, geen verskoning om oneerbiedig op te tree nie. Julle behoort dan selfs harder te werk, want dan is dit gelowiges en geliefdes wat uit julle kwaliteitwerk voordeel trek.Onderrig hierdie waarhede, Timoteus, en moedig almal aan om dit te gehoorsaam.

3. Sommige vals leraars ontken dalk hierdie dinge, maar dit is die gesonde, heilsame leer van die Here Jesus Christus en dit is die fondament vir ’n godvresende lewe.

4. Enigiemand wat enigiets anders leer, is nie net verwaand nie, maar ook dom. Só ’n mens het ’n ongesonde begeerte om oor die betekenis van woorde te kibbel. Dit veroorsaak argumente wat eindig in jaloesie, stryd, beledigings en bose agterdog.

5. Hierdie mense veroorsaak altyd moeilikheid. Hulle gedagtes is korrup, en hulle praat nie die waarheid nie. Vir hulle is godsdiens net ’n manier om ryk te word.

6. Tog is ware godsdiens saam met tevredenheid ’n groot rykdom.

7. Ons het immers niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons kan ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie.

8. As ons dus genoeg kos en klere het, laat ons tevrede wees.

9. Maar mense wat begeer om ryk te wees, val in versoeking en trap in die strik van baie dwase en skadelike begeertes wat hulle in die verderf en ondergang stort.

10. Want die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad. En sommige mense wat geld begeer, het weggedwaal van die geloof en hulleself met baie ellende deurboor.

11. Maar jy, Timoteus, man van God; vlug weg van al hierdie bose dinge, en volg na wat reg en goed is. Beywer jou vir ’n lewe volgens die wil van God, gekenmerk deur toewyding, geloof, liefde, volharding en deernis.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 6