Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 1:11-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Hulle het probeer uitvind wat die Gees van Christus in hulle bedoel het toe Hy vooruit vir hulle vertel het van Christus se lyding en dat Hy daarna verheerlik sou word. Hulle het gewonder met wie en wanneer dit alles sou gebeur.

12. God het aan hulle openbaar dat dit wat hulle geprofeteer het, nie vir hulle eie tyd bedoel was nie, maar vir julle s’n. Dié Goeie Nuus is nou by julle aangekondig deur dié wat vir julle gepreek het met die krag wat die Heilige Gees gee. God self het die Gees gestuur. Dit is só wonderlik dat selfs die engele dit alles fyn dophou.

13. Sien daarom met verwagting uit na die genade wat vir julle gebring word wanneer Jesus Christus weer verskyn. Sorg dat julle helder dink en gedissiplineerd lewe.

14. Wees gehoorsaam aan God, want julle is sy kinders. Moenie weer soos vroeër julle natuurlike neigings die oorhand laat kry nie. Julle het destyds nie van beter geweet nie.

15. Soos Hy wat julle geroep het heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel ook heilig wees.

16. Hy het immers self gesê: “Wees heilig, want Ék is heilig!”

17. En onthou dat die Vader tot wie julle bid, niemand voortrek wanneer Hy beoordeel nie. Hy beoordeel elke mens volgens sy dade. Daarom moet julle julle eerbied vir Hom wys met julle leefstyl, al is julle uitlanders.

18. Julle weet mos dat God betaal het om julle los te koop van die sinlose leefstyl wat julle van julle voorouers oorgeërf het. En dié losprys was nie dinge wat vergaan, soos goud of silwer nie.

19. Inteendeel, dit was die kosbare bloed van Christus, soos dié van ’n lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.

20. God het Hom lank voor die skepping al hiervoor bestem. God het Hom egter eers in hierdie eindtyd vir almal sigbaar gemaak. En Hy het dit vir júlle gedoen.

21. Christus maak dat julle al julle vertroue op God stel. God het Christus uit die dood opgewek en heerlikheid aan Hom gegee. Daarom stel julle al julle vertroue en hoop op God.

22. Julle is van julle sondes gereinig toe julle die waarheid van die Goeie Nuus aanvaar het. Julle kan mekaar dus as medegelowiges regtig liefhê. Daarom moet julle sorg dat julle mekaar van harte liefhet, al vra dit inspanning.

23. God het immers die proses begin waardeur julle weergebore is. Hierdie weergeboorte is nie deur julle aardse ouers bewerk nie, want die lewe wat hulle julle gegee het, loop op die dood uit. Die nuwe lewe wat God gegee het, is vir ewig, want dit kom van die ewige en lewende woord van God.

24. Soos die profeet sê:“Elke liggaam is soos gras;al sy skoonheid is soos ’n veldblom.Die gras verskroei,en die blom verlep.

Lees volledige hoofstuk 1 Petrus 1