Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 46:3-17 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

3. Die mense van die land moet ook voor die ingang van dié poort, voor die Teenwoordigheid van יהוה aanbid, op die Shabbatte en op die Nuwemane.

4. Die brandoffer wat die prins aan יהוה moet offer op die Shabbatdag, is ses lammers sonder gebrek en ’n ram sonder gebrek

5. en die graanoffer moet ’n efa vir die ram wees en vir die lammers moet die graanoffer wees soveel as wat hy kan gee en ’n hin olie vir ’n efa.

6. Op die dag van die Nuwemaan: ’n jong bul sonder gebrek, ses lammers en ’n ram, wat sonder gebrek is

7. en hy moet ’n graanoffer voorsien: ’n efa vir die bul en ’n efa vir die ram, maar vir die lammers volgens wat hy kan bekostig en ’n hin olie vir ’n efa.

8. Wanneer die prins ingaan, moet hy deur die stoep van die poort ingaan en met dieselfde pad weer uitgaan.

9. Wanneer die mense van die land egter voor die Teenwoordigheid van יהוה kom op die aangestelde feeste, moet hy wat deur die Noordpoort ingaan om te aanbid, deur die Suidpoort uitgaan en hy wat deur die Suidpoort ingaan, moet deur die Noordpoort uitgaan. Niemand mag teruggaan deur die poort waardeur hy ingegaan het nie, maar moet reguit vorentoe uitgaan.

10. Wanneer hulle ingaan, moet die prins tussen hulle ingaan en wanneer hulle uitgaan, moet hy uitgaan.

11. By die feeste en op die aangestelde feeste moet die graanoffer ’n efa vir ’n bul en ’n efa vir ’n ram wees en vir die lammers soveel as iemand in staat is om te gee en ’n hin olie vir ’n efa.

12. Wanneer die prins ’n vrywillige offer voorsien, ’n brandoffer of vredesoffers as vrywillige offer aan יהוה, dan moet hulle vir hom die poort oopmaak wat na die ooste kyk en hy moet sy brandoffer en sy vredesoffers voorsien soos wat hy op die Shabbatdag doen. Dan moet hy uitgaan en die poort moet gesluit word nadat hy uitgegaan het.

13. Jy moet ook daagliks ’n lam in sy eerste jaar sonder gebrek voorsien as brandoffer aan יהוה; oggend na oggend moet jy dit voorsien.

14. Jy moet ook oggend na oggend ’n graanoffer saam met dit voorsien: ’n sesde van ’n efa en ’n derde van ’n hin olie om die fyn meel klam te maak, ’n voortdurende graanoffer aan יהוה, deur ’n ewige instelling.

15. So moet hulle die lam, die graanoffer en die olie oggend na oggend voorsien as ’n voortdurende brandoffer.”

16. So sê יהוה-God: “As die prins aan een van sy seuns ’n geskenk gee uit sy erfenis, dan behoort dit aan sy seuns: dit is hulle besitting deur erfenis,

17. maar as hy van sy erfenis ’n geskenk aan een van sy diensknegte gee, dan sal dit syne wees tot by die jaar van vryheid; dan moet dit na die prins toe teruggaan. Sy erfenis sal net sy seuns s’n wees; dit sal aan hulle behoort.

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 46