Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 47:11-27 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

11. Yosef het Ya’akov en sy broers gevestig en vir hulle land gegee in Mitzrayim, in die beste deel van die land, in die landstreek Ra’amses, soos Farao beveel het.

12. Yosef het sy vader en sy broers en die hele huis van sy vader met kos onderhou, ooreenkomstig die monde van die kinders.

13. Daar was in die hele land geen brood nie, want die hongersnood was baie swaar sodat Mitzrayim en die land Kena’an swak geword het weens die hongersnood.

14. Yosef het, vir die koring wat hulle gekoop het, al die geld wat in Mitzrayim en in die land Kena’an te vinde was, bymekaar gemaak en Yosef het die geld in die paleis van Farao gebring.

15. Toe die geld in Mitzrayim en in die land Kena’an op was, het al die Mitzrayiete na Yosef gekom en gesê: “Gee vir ons brood, want waarom moet ons voor u oë sterf, want die geld is op?”

16. Yosef antwoord: “Gee julle vee, dan sal ek vir julle brood gee vir die vee as die geld op is.”

17. Toe bring hulle hul vee na Yosef toe en Yosef het vir hulle brood gegee vir die perde, die kleinvee, die beeste van die troppe en vir die donkies en hy het hulle dié jaar gevoed met brood vir die waarde van al hulle vee.

18. Toe dié jaar verby was, het hulle na hom gekom in die volgende jaar en vir hom gesê: “Ons kan dit nie vir my meester wegsteek nie, maar die geld is op en my meester het ons vee en beeste. Daar het niks voor my meester oorgebly nie as net ons liggame en ons grond.

19. Waarom moet ons voor u oë doodgaan, ons sowel as ons grond? Koop ons en ons grond vir brood, dan sal ons met ons grond vir Farao dien en gee vir ons saad dat ons kan leef en nie sterf nie en dat die grond nie verlate word nie.”

20. Yosef het al die grond van Mitzrayim vir Farao opgekoop, want die Mitzrayiete het elkeen sy stuk grond verkoop omdat die hongersnood vir hulle te swaar was. So het die land, Farao se eiendom geword.

21. Wat die volk betref; hy het hulle laat verhuis na die stede, van die een grens van Mitzrayim tot by die ander grens.

22. Net die grond van die priesters het hy nie gekoop nie, want die priesters het ’n deel wat deur Farao voorgeskryf was, ontvang en hulle het hulle voorgeskrewe deel geëet wat Farao vir hulle gegee het; daarom het hulle hul grond nie verkoop nie.

23. Toe sê Yosef vir die volk: “Let op, ek het julle en jul grond vandag vir Farao gekoop: let op, hier is saad vir julle, julle moet die grond besaai

24. en dit sal wees dat by die insameling, julle ’n vyfde deel aan Farao moet afgee en die ander vier dele sal julle eiendom wees as saad vir die land, as voedsel vir julleself en vir die wat in julle huise is en as kos vir julle kinders.

25. Hulle antwoord: “U het ons lewe gered. Laat ons guns vind in die oë van my meester, dan sal ons diensknegte van Farao wees.

26. Yosef het dit ’n wet gemaak vir die land van Mitzrayim tot vandag toe; ’n vyfde deel behoort aan Farao. Net die grond van die priesters alleen het nie die eiendom van Farao geword nie.

27. Yisra’el het in Mitzrayim gebly, in die land Goshen en hulle het gebly op grond wat hulle besit het en gegroei en uitermate vermeerder.

Lees volledige hoofstuk Genesis 47