Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 13:5-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

5. Die altaar is ook uitmekaargeskeur en die as is van die altaar afgegooi volgens die teken wat die man van God gegee het deur die woord van יהוה.

6. Die koning sê aan die man van God: “Pleit asseblief van יהוה, jou God en bid vir my dat my hand aan my teruggegee sal word.” Die man van God het van יהוה gepleit en die koning se hand is vir hom herstel en dit het geword soos vroeër.

7. Toe sê die koning vir die man van God: “Kom saam met my huis toe en verfris jouself en ek sal vir jou ’n beloning gee.”

8. Die man van God sê egter vir die koning: “Selfs al gee u my die helfte van u huis, sal ek nie saam met u gaan nie en ook sal ek geen brood eet of water drink in hierdie plek nie,

9. want so het יהוה my beveel deur Sy woord en gesê: ‘Jy mag geen brood eet of water drink of terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.’”

10. Hy het toe met ’n ander pad gegaan en nie teruggekeer met die pad waarmee hy na Beit-El gekom het nie.

11. ’n Ou profeet het in Beit-El gebly en sy seuns het gekom en hom alles vertel wat die man van God dié dag in Beit-El gedoen het; ook die woorde wat hy met die koning gepraat het, het hulle vir hul vader vertel.

12. Hulle vader het vir hulle gesê: “Met watter pad het hy gegaan?” Sy seuns het die pad gesien waarmee die man van God, wat uit Y’hudah gekom het, weg is.

13. Toe sê hy vir sy seuns: “Saal vir my die donkie op.” Hulle het vir hom die donkie opgesaal en hy het daarop weggery.

14. Hy het agter die man van God aan gegaan en hom gekry waar hy onder ’n eikeboom sit en hy sê vir hom: “Is jy die man van God wat uit Y’hudah gekom het?” Hy antwoord: “Ek is.”

15. Toe sê hy vir hom: “Kom huis toe saam met my en eet brood.”

16. Hy antwoord: “Ek kan nie teruggaan of saam met jou gaan nie; ek mag ook nie brood eet of saam met jou water in hierdie plek drink nie,

17. want ’n opdrag het na my toe gekom deur die woord van יהוה: ‘Jy mag geen brood eet of water daar drink nie; jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.’”

18. Hy het vir hom gesê: “Ek is ook ’n profeet net soos jy en ’n engel het met my gepraat deur die woord van יהוה en gesê: “Bring hom terug saam met jou na jou huis dat hy brood kan eet en water kan drink.” Hy het vir hom gelieg.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 13