Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 12:10-21 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, antwoord hom en sê: “Só moet u hierdie mense antwoord wat met u gepraat en gesê het: ‘U vader het ons juk swaar gemaak, maak u dit nou ligter vir ons,’ u moet hulle antwoord: ‘My pinkie is dikker as my vader se duim.

11. Waar my vader julle belas het met ’n swaar juk, sal ek bysit by julle juk; my vader het julle met swepe gedissiplineer, maar ék sal julle met skerpioene dissiplineer.’”

12. Toe het Yarov’am en al die mense by Regav’am gekom op die derde dag soos die koning aangedui en gesê het: “Kom na my toe terug op die derde dag.”

13. Die koning het die volk hard geantwoord, want hy het die raad wat die oudstes vir hom gegee het, verwerp

14. en met hulle gepraat volgens die raad van die jongmanne en gesê: “My vader het julle juk swaar gemaak, maar ék sal bysit by julle juk; my vader het julle met swepe gedissiplineer, maar ék sal julle met skerpioene dissiplineer.”

15. So het die koning dan nie na die mense geluister nie, want dit was ’n reeks gebeurlikhede vanaf יהוה sodat Hy Sy woord kan vestig wat יהוה deur Agiyah, die Shilohiet, tot Yarov’am, die seun van N’vat, gepraat het.

16. Toe die hele Yisra’el sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die mense die koning geantwoord en gesê: “Watter deel het ons aan Dawid? Ons het geen erfenis aan die seun van Yishai nie! Na julle tente toe, Yisra’el! Kyk nou na jou eie huis, Dawid!” Yisra’el het na hulle tente toe gegaan,

17. maar Regav’am was koning oor die seuns van Yisra’el wat in die stede van Y’hudah gebly het.

18. Toe stuur koning Regav’am vir Adoram, wat oor die dwangarbeid was en die hele Yisra’el het hom gestenig sodat hy dood is. Koning Regav’am het hom gehaas om op sy strydwa te klim om na Yerushalayim te vlug.

19. Só was Yisra’el in rebellie teen die huis van Dawid tot vandag toe.

20. Dit het gebeur toe die hele Yisra’el hoor dat Yarov’am terug was, hulle gestuur en hom na die vergadering geroep en hom koning gemaak het oor die hele Yisra’el. Niemand behalwe die stam van Y’hudah het die huis van Dawid gevolg nie.

21. Toe Regav’am in Yerushalayim gekom het, het hy die hele huis van Y’hudah en die stam van Binyamin bymekaargeroep, een honderd en tagtig duisend manne wat soldate was, om teen die huis van Yisra’el te veg, om die koninkryk tot Regav’am, die seun van Shlomo, te herstel.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 12