hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markos 1 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Die begin van die goeie boodskap van Yeshua, Die Gesalfde Een, die Seun van God,

2. sóos dit geskryf is in Yesha’yahu die Profeet: “Let op, Ek sal My boodskapper voor U Teenwoordigheid uitstuur, om U pad voor te berei.”Yes 40:3; Mat 3:3

3. ’n Stem wat uitroep: “Berei die weg van יהוה in die wildernis voor en maak Sy paaie reguit!”

4. Yoganan was in die wildernis, besig om te doop en het die doop van berou, erkenning en aflegging verkondig vir die bevryding van sondes.

5. Die hele streek van Y’hudah en die inwoners van Yerushalayim het uitgegaan na hom toe en hy het almal in die Yardenrivier gedoop, wanneer hulle hul sondes erken en aflê.

6. Yoganan was aangetrek met klere van kameelhare en ’n gordel van leer om sy heup en sy kos was sprinkane en heuning van die veld.

7. Hy het verkondig en gesê: “Let op, ná my kom Een wat magtiger is as ek en ek is nie waardig om af te buk en sy sandaal se band los te maak nie.

8. Ek het julle in water gedoop, maar Hy sal julle in die Gees van Afsondering doop.”

9. Dit was in daardie dae dat Yeshua, van Natzeret in die Galil, gekom het en Hy deur Yoganan in die Yarden gedoop is

10. en dadelik, toe Hy opkom uit die water uit, sien hy die hemele skeur en die Gees soos ’n duif op Hom neerdaal

11. en daar was ’n Stem uit die hemel: “Jy is My Seun, wie Ek lief het, waarmee Ek tevrede is.”

12. Dadelik het die Gees Hom uitgedryf na die wildernis toe.

13. Hy was daar in die wildernis vir veertig dae terwyl Hy getoets is deur die teëstander. Hy was saam met die wilde diere en die engele het Hom bedien.

14. Nadat Yoganan gevang is, het Yeshua na die Galil gekom en die goeie boodskap van die Koninkryk van God verkondig

15. en gesê dat die tyd tot volheid gekom het en dat die Koninkryk van God naby gekom het; draai om na God toe en vertrou in die goeie boodskap.

16. Terwyl Hy langs die see van Galila loop, sien Hy vir Shim’on en Andreas, sy broer, besig om ’n net in die see te gooi, want hulle was vissers

17. en Yeshua sê vir hulle: “Kom agter My aan en Ek sal julle vissers van mense maak”

18. en dadelik het hulle hul nette laat staan en Hom gevolg.

19. ’n Entjie verder aan, sien Hy vir Ya’akov, die seun van Zavdai en Yoganan, sy broer, asook dié in die boot besig om hulle nette heel te maak

20. en Hy het hulle geroep en dadelik het hulle hul vader, Zavdai, in die skuit saam met die huurlinge laat staan en Hom gevolg.

21. Toe hulle K’far-Nagum binnegekom het, het Hy dadelik, op die Shabbat, in hulle bymekaarkomplek lering gegee

22. en hulle was stomgeslaan oor Sy leer, want Hy het hulle geleer soos Een wat outoriteit het en nie soos hulle leraars van die wet nie.

23. Daar was in hulle bymekaarkomplek ’n man met ’n vuil gees in hom en hy het uitgeskree

24. en gesê: “Wat wil U van ons hê, Yeshua, Natzerener (vanaf Natzeret)? Het U gekom om ons te vernietig? Ek weet Wie U is: die Afgesonderde Een van God!”

25. Yeshua het hom beveel en gesê: “Hou jou mond toe en gaan uit hom uit!”

26. Die vuil gees het hom neergegooi en met ’n harde stem geskree en uit hom uitgegaan.

27. Almal was verbaas en het dit onder mekaar bespreek en gevra: “Wat is dit? Watse nuwe leringe is dit en dít met outoriteit; Hy beveel selfs die vuil geeste en hulle gehoorsaam Hom?”

28. Onmiddellik het die nuus oor Hom versprei in die hele streek van die Galil.

29. Hulle het uit die bymekaarkomplek uitgegaan en saam met Ya’akov en Yoganan na die huis van Shim’on en Andreas gegaan.

30. Die skoonmoeder van Shim’on het siek gelê met koors en hulle het Hom gesê van haar.

31. Hy gaan na haar toe, vat haar hand, lig haar op en dadelik het die koors haar verlaat en sy het hulle bedien.

32. In die aand toe die son ondergegaan het, het hulle almal na Hom toe gebring wat siek en deur demone beheer was

33. en die hele dorp het by die deur bymekaargekom.

34. Hy het baie gesond gemaak wat ’n verskeidenheid siektes gehad het, baie bose geeste uitgedryf en die bose geeste nie toegelaat om te praat nie omdat hulle Hom geken het.

35. Baie vroeg in die oggend, het Hy opgestaan en uitgegaan na ’n afgesonderde plek en daar het Hy gebid.

36. Shim’on en die wat by hom was, het Hom gesoek

37. en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom dat almal na Hom soek

38. en Hy sê vir hulle: “Ons gaan na die dorpe en stede naby ons sodat Ek ook daar kan verkondig, want hiervoor het Ek gekom.”

39. Hy het in al hulle bymekaarkomplekke gepraat in die hele Galil en demone uitgedryf.

40. ’n Melaatse kom na Hom toe, val neer by Sy voete en smeek van Hom en sê vir Hom: “As U wil, is U in staat om my te reinig.”

41. Yeshua het vir hom liefdevol omgegee en Sy hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: “Ek wil, word gereinig!”

42. Op daardie oomblik het die melaatsheid van hom af weggegaan en hy is gereinig

43. en Hy het hom ernstig gewaarsku en hom weggestuur

44. en vir hom gesê: “Wees versigtig dat jy absoluut niks aan iemand sê nie, maar gaan wys jouself aan die priester en offer wat Moshe beveel het vir jou reiniging, tot ’n getuienis vir hulle,”

45. maar toe hy uitgegaan het, begin hy baie verkondig en verslag doen oor die gebeurtenis sodat Yeshua nie meer openlik in ’n dorp kon ingaan nie, maar Hy was in verlate plekke en hulle het van elke plek af na Hom toe gekom.