hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markos 6 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Hy het daarvandaan weggegaan en in die dorp gekom en Sy studentevolgelinge het by Hom gebly.

2. Toe dit Shabbat word, begin Hy om in die bymekaarkomplek te leer en baie wat Hom gehoor het, was verwonderd en sê: “Waar kry Hy hierdie dinge en watter wysheid is aan Hom gegee dat sulke wonderwerke deur Sy hande gedoen kan word?

3. Is Hy nie net die skrynwerker, die seun van Miryam, die broer van Ya’akov, Yosi, Y’hudah en Shim’on nie en is sy susters nie hier tussen ons nie?” Hulle was agterdogtig oor Hom.

4. Yeshua sê vir hulle: “Daar is nie ’n profeet sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp, by sy familie en in sy huis.”

5. Hy kon geen kragtige dade daar doen nie, behalwe om ’n paar siekes die hande op te lê en hulle gesond te maak

6. en Hy was verstom oor hulle gebrek aan vertroue en het na die dorpies rondom gegaan en geleer.

7. Hy het die twaalf geroep en begin om hulle twee-twee uit te stuur en hulle outoriteit gegee oor vuil geeste: om hulle uit te dryf

8. en Hy het hulle beveel om niks op die pad saam te vat nie behalwe miskien net ’n staf; geen sak, geen brood en geen koper in hulle beursie nie,

9. maar hulle moet sandale aan hulle voete trek en nie twee kledingstukke aantrek nie.

10. Hy het ook vir hulle gesê: “In watter huis julle ook al mag ingaan, bly dáár totdat julle daarvandaan vertrek

11. en almal wat julle nie ontvang of selfs nie na julle luister nie, wanneer julle weggaan van daardie plek af, skud die stof onder julle voete af, tot ’n getuienis teen hulle. Dit is waar, Ek sê vir julle, dit sal vir S’dom en vir `Amorra meer uithoudbaar wees in die dag van oordeel as vir daardie dorp.”

12. Hulle het uitgegaan en verkondig dat mense moet omdraai van hulle sondes na God toe

13. en hulle het baie bose geeste uitgedryf, baie siekes met olie gesalf en hulle genees.

14. Die koning, Herodes, het van Yeshua gehoor, want Sy Karakter en Outoriteit (Naam) het bekend geword en hy het gesê: “Hy is Yoganan, die Doper, wat uit die dood uit opgestaan het; daarom werk dié kragte in Hom.”

15. Ander het gesê: “Hy is Eliyahu;” en nog ander het gesê: “Hy is ’n profeet, net soos een van die profete,”

16. maar toe Herodes dit hoor, sê hy: “Yoganan wat ek onthoof het, dit is hy wat uit die dood uit opgestaan het,”

17. want Herodes self het gestuur en Yoganan gevang en hom in die tronk vasgebind, deur toedoen van Herodias, die vrou van Filippos, sy broer omdat hy met haar getrou het,Lev 20:21

18. want Yoganan het aan Herodes gesê dat dit nie reg is volgens die wet om sy broer se vrou te vat nie.

19. Herodias het hom gedreig en wou hom doodmaak en sy kon nie,

20. want Herodes was bang vir Yoganan omdat hy gesien het dat hy ’n onskuldige en afgesonderde man was en hy het hom beskerm en baie dinge van hom gehoor en vir hom gedoen. Hy het graag na hom geluister.

21. Op ’n geskikte dag, toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy edelmanne, die kapteins en die leiers van die Galil, ’n feesmaal gehou het

22. en die dogter van dieselfde Herodias ingekom en gedans het en sy Herodes en die wat saam aan tafel was, plesier het, het die koning vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil en ek sal dit vir jou gee.”

23. Hy het vir haar met ’n eed belowe: “Net wat jy my vra, sal ek jou gee, tot en met die helfte van my koninkryk.”

24. Toe gaan sy uit en sê vir haar moeder: “Wat sal ek vir hom vra?” Sy sê: “Die kop van Yoganan, die Doper.”

25. Dadelik haas sy haar in na die koning toe en vra hom en sê: “Ek wil hê dat u dadelik vir my die kop van Yoganan, die Doper, op ’n bord sal gee.”

26. Die koning was intens bedroef, maar as gevolg van die eed en die wat saam aan tafel was, het hy gekies om haar nie te weier nie

27. en die koning stuur dadelik die laksman met die opdrag om sy kop te bring. Hy het gegaan en hom in die tronk onthoof

28. en sy kop op ’n bord gebring en dit aan die meisie gegee en die meisie het dit aan haar moeder gegee.

29. Toe sy studentevolgelinge dit hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en dit in ’n graf gesit.

30. Die wat uitgestuur is, het by Yeshua saamgekom en aan Hom alles wat hulle gedoen het, vertel en alles wat hulle aan ander geleer het

31. en Hy sê vir hulle: “Kom julle, ons sal alleen na die platteland toe gaan dat julle kan rus,” want daar was baie wat kom en gaan en hulle het selfs geen geleentheid gehad om te eet nie.

32. Hulle het alleen met die boot na ’n verlate plek gegaan

33. en die menigte mense het hulle sien weggaan en baie het Hom herken en te voet van al die stede af aangehardloop voor Hom uit na daardie plek toe.

34. Yeshua het uitgeklim, die baie mense gesien en vir hulle omgegee omdat hulle soos skape sonder ’n herder was en Hy het begin om hulle baie dinge te leer.

35. Toe dit laat geword het, het Sy studentevolgelinge na Hom toe gekom en vir Hom gesê: “Die plek is verlate en dit is reeds laat.

36. Stuur hulle weg sodat hulle na die mark en dorpe rondom kan gaan om brood vir hulleself te koop, want daar is niks vir hulle om te eet nie,”

37. maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle sê vir Hom: “Moet ons gaan en vir twee honderd denarii brood koop en vir hulle gee om te eet?”

38. Hy sê vir hulle: “Gaan kyk hoeveel brode julle hier het.” Toe hulle gaan kyk het, kom hulle en sê: “Vyf brode en twee visse.”

39. Hy het hulle beveel om almal op die gras te laat sit

40. en hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig.

41. Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel, seën en breek die brode en gee dit aan Sy studentevolgelinge om dit voor te sit en Hy het ook die twee visse onder almal verdeel.

42. Almal het geëet en was versadig

43. en hulle het twaalf mandjies vol van die afgebreekte stukkies en vis opgetel.

44. Hulle wat van die brood geëet het, was ongeveer vyf duisend mans.

45. Dadelik het Hy Sy studentevolgelinge in die boot laat klim en hulle vooruit laat vaar na die oorkant, na Beit-Tzaidah terwyl Hy die mense wegstuur.

46. Nadat Hy hulle weggestuur het, het Hy in die heuwels ingegaan om te bid.

47. Teen die aand, was die boot in die middel van die see en Hy alleen op die land.

48. Hy het gesien dat hulle swaar roei, want die wind was teen hulle en omtrent die vierde wagbeurt het Hy al lopend op die see na hulle toe gekom en wou by hulle verbygaan.

49. Hulle het Hom op die water sien loop en het gedink dat Hy ’n vals verskynsel was en hulle het uitgeroep,

50. want hulle het Hom almal gesien en was bang. Dadelik praat Hy met hulle en sê vir hulle: “Wees bemoedig, אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, moenie bang wees nie.”

51. Hy het nader gekom en by hulle in die skuit geklim, die wind het gaan lê en hulle was in hulleself uitermate verbaas en verwonderd,

52. want hulle het Hom nie herken na die brood nie omdat hulle verstand verhard was.

53. Nadat hulle oorgevaar het na die anderkant toe, het hulle by die land van Ginosar gekom.

54. Toe hulle uit die boot klim, het die mense van die plek Hom dadelik herken

55. en in daardie hele streek het hulle rondgehardloop en die wat siek was op beddens begin dra na die plek waar hulle gehoor het dat Hy is.

56. Waar Hy ook al ingegaan het in dorpe of stede, het hulle die wat siek was, op die strate neergesit en Hom gesmeek om, al was dit maar die bloulyn-soomtossel van Sy kleed, aan te raak en almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword.