hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markos 5 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Hulle het aan die oorkant van die meer, in die streek van die Gadaréners, gekom

2. en toe Hy uit die boot uitklim, kom daar uit die grafte ’n man met ’n onrein gees Hom tegemoet.

3. Hy het tussen die grafte gebly en niemand kon hom met kettings vasbind nie,

4. want wanneer hy ook al met voetboeie en kettings vasgebind is, het hy die kettings gebreek en die voetboeie afgesny en niemand kon hom tot bedaring bring nie

5. en sonder ophou, nag en dag, het hy in die heuwels en in die grafte aangehou om te skree en homself met ’n klip te sny.

6. Toe hy Yeshua van ver af sien, hardloop hy en val voor Hom neer

7. en skree met ’n harde stem en sê: “Wat het U met my te doen, Yeshua, Seun van die Allerhoogste God (Ha’Elyon). Ek smeek U by God dat U my nie sal martel nie,”

8. want Hy het vir hom gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!”

9. Hy vra vir hom: “Wat is jou karakter en outoriteit?” en hy antwoord en sê: “Legioen is ons naam (karakter en outoriteit), want ons is baie”

10. en hulle het Hom baie gesmeek om hulle nie uit die streek uit weg te stuur nie.

11. Naby die berg was daar ’n groot trop varke aan die wei

12. en al die bose geeste het Hom gesmeek en gesê: “Stuur ons na die varke sodat ons in hulle kan ingaan.”

13. Hy het hulle toegelaat en die vuil geeste het uitgegaan, in die varke ingegaan en die trop het na ’n krans gehardloop en in die see geval en omtrent twee duisend het in die see verdrink.

14. Die oppassers van die varke het gevlug en dit in die stad en omgewing gerapporteer en hulle het uitgekom om te sien wat gebeur het.

15. Hulle kom by Yeshua en sien die een in wie Legio was, wat deur die bose geeste beheer was, sit - aangetrek, nugter en ordentlik en hulle was bang.

16. Die wat dit gesien het, gee toe verslag oor wat gebeur het met die een wat deur die bose gees beheer is en ook met die varke

17. en hulle het Hom begin vra om weg te gaan van hulle kus af.

18. Nadat Hy in die boot geklim het, het die man, wat deur die bose geeste beheer was, Hom gevra om by Hom te bly,

19. maar Yeshua het hom nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis en jou mense toe en maak aan hulle bekend alles wat יהוה vir jou gedoen het en dat Hy liefdevol omgegee het vir jou.”

20. Hy het weggegaan en in die gebied van die tien stede begin verkondig watter groot dinge Yeshua vir hom gedoen het en almal was verwonderd.

21. Nadat Yeshua in die boot oorgevaar het na die ander kant toe, het baie mense by Hom bymekaargekom terwyl Hy langs die see was

22. en daar kom een van die hoofde van die bymekaarkomplek, met die naam van Ya’ir, na hom toe en toe hy Hom sien, val hy voor Sy voete neer

23. en smeek dringend van Hom en sê: “My dogter is op die punt om te sterf; kom lê U hand op haar en sy sal gesond word en lewe.”

24. Yeshua het saam met hom gegaan en ’n groot klomp mense het Hom gevolg en om Hom gedruk van alle kante af.

25. Daar was ’n sekere vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het,

26. wat baie onder baie geneeshere gely het, al haar besittings uitgegee het en niks het gehelp nie, maar dit het, inteendeel, erger geword.

27. Toe sy van Yeshua gehoor het, het sy tussen die druk van die skare van agter af gekom en Sy bo-kleed aangeraak,

28. want sy het gesê: “As ek Sy klere kan aanraak, sal ek lewe.”

29. Dadelik het die bron van haar bloed opgedroog en sy het aan haar liggaam geweet dat sy van haar siekte genees is.

30. Dadelik het Yeshua in Homself geweet dat krag van Hom af uitgegaan het en Hy draai Hom om tussen die skare en sê: “Wie het my klere aangeraak?”

31. Sy studentevolgelinge antwoord Hom: “U sien dat die skare U van alle kante af druk en U sê: ‘Wie het My aangeraak’?”

32. Hy het rondgekyk om te sien wie dit gedoen het,

33. maar die vrou, wat bang was en gebewe het omdat sy geweet het wat met haar gebeur het, kom en val voor Hom neer en vertel Hom die hele waarheid.

34. Hy sê vir haar: “My dogter, jou vertroue het aan jou lewe gegee. Gaan in vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed en wees genees van jou siekte.”

35. Terwyl Hy nog praat, kom daar mense van die hoof van die bymekaarkomplek se huis en sê: “U dogter is dood. Waarom val u die Leermeester nog lastig?”

36. Yeshua het die woorde gehoor wat hulle gesê het en Hy sê vir die hoof van die bymekaarkomplek: “Moenie vrees nie; hou net aan vertrou.”

37. Hy het niemand toegelaat om saam met Hom te gaan nie, behalwe Shim’on Kefa, Ya’akov en Yoganan, die broer van Ya’akov.

38. Hulle kom by die huis van die hoof van die bymekaarkomplek en sien die wat omgekrap was, huil en weeklaag.

39. Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Waaroor is julle omgekrap en huil julle? Die kind is nie dood nie, maar slaap.”

40. Hulle het vir Hom gelag, maar Hy het almal uitgejaag en die vader van die kind, die moeder en die wat by Hom was, saamgevat en ingegaan na waar die meisie lê.

41. Hy vat die meisie aan haar hand en sê vir haar: “Jong meisie, staan op!”

42. Dadelik het die jong meisie opgestaan en rondgeloop, want sy was ’n dogter van twaalf jaar oud en hulle was verstom met groot verbasing.

43. Hy het hulle streng beveel dat hulle niemand daarvan vertel nie en vir hulle gesê om vir haar iets te gee om te eet.