Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 2:12-23 Die Boodskap (DB)

12. Mag die Here, die God van Israel, by wie jy hulp kom soek het, vir jou baie goed wees. Mag Hy jou goed versorg oor al die mooi dinge wat jy gedoen het.”

13. “U is baie vriendelik, Meneer,” sê sy toe vir hom. “Ek is bly dat u so ordentlik met my praat al is ek nie een van u werkers nie.”

14. Met etenstyd het Boas vir Rut geroep en gesê: “Kom eet saam met ons. Vat gerus ook van die brood en doop dit in die wynsous om jou dors weg te vat.”Sy het toe by die werkers gaan sit en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Toe sy klaar geëet het, was daar genoeg oor om saam te vat huis toe.

15. Toe Rut weg is om verder te gaan werk, het Boas vir sy werkers gesê: “Laat haar toe om ook tussen die gerwe koringare op te tel. Moenie haar keer om dit te doen nie.

16. Julle moet ook so nou en dan van die are uit die bondels uittrek en dit spesifiek vir haar los sodat sy dit kan optel. Moenie dit moeilik maak vir haar nie.”

17. Rut het tot die aand toe are op die land opgetel. Toe sy later die are uitslaan om die graan en die halms te skei, was daar omtrent tien kilogram graan.

18. Rut het die koring teruggevat dorp toe en vir haar skoonma gaan wys hoeveel sy die dag bymekaargemaak het. Sy het ook vir Naomi van die kos gegee wat van die middag se ete oorgebly het.

19. Naomi was so verbaas dat sy sommer gevra het: “Waar kry jy so baie? Op wie se land het jy gewerk? Mag die Here baie goed wees vir die persoon wat jou gehelp het!” Rut het haar toe vertel wat sy gedoen het en dat sy op die land van ’n man met die naam Boas gewerk het.

20. “Mag die Here Boas seën!” het Naomi gesê. “Die Here kom altyd sy beloftes na aan dié wat lewe en selfs ook dié wat al dood is. Weet jy, hierdie man is familie van ons. Om die waarheid te sê, hy is eintlik een van die mense wat veronderstel is om vir ons te sorg omdat ons nie meer mans of kinders het nie.”

21. Toe sê Rut: “Dis nie al nie. Hy het ook gesê ek moet terugkom en elke dag saam met sy werkers are kom optel totdat die hele oes van die land af is.”

22. Naomi sê toe vir Rut: “Dis goed so. Jy moet eerder saam met die vroue op Boas se land werk. Jy mag dalk net beledig word as jy op iemand anders se land gaan werk.”

23. Rut het toe saam met die ander vroue in Boas se land are opgetel totdat die gars- en koringoes ingesamel was. Sy het die hele tyd by haar skoonma gebly.

Lees volledige hoofstuk Rut 2