Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 7:13-25 Die Boodskap (DB)

13. Gideon het net betyds daar aangekom om te hoor hoe iemand vir sy vriend van sy droom vertel. “Ek het gedroom,” het hy gesê, “daar kom ’n ronde garsbrood in die kamp ingerol. Dit het tot teen die tent gerol en dit omgestamp en inmekaar laat val.”

14. Sy vriend het gesê: “Dit kan net een ding beteken. God het die Midianiete en hulle hele leër in die mag van die Israeliet Gideon die seun van Joas oorgegee!”

15. Toe Gideon die droom en die betekenis daarvan hoor, het hy vir die Here dankie gesê. Hy is toe terug kamp toe. Daar aangekom, het hy vir die Israeliete gesê: “Kom, die Here het klaar vir ons die oorwinning oor die Midianiete gegee.”

16. Gideon het die 300 soldate in drie groepe gedeel. Hy het vir elke soldaat ’n trompet en ’n leë kleipot met ’n fakkel daarin gegee.

17. Toe sê hy vir hulle: “Hou my dop. Sodra ek by die grens van die kamp kom, moet julle presies doen wat ek doen.

18. As ek en die groep by my op ons trompette blaas, moet julle ander wat reg rondom die kamp is, dit ook begin doen en skree: ‘In die Naam van die Here en Gideon!’”

19. Dit was net na middernag, na die wagte omgeruil het, toe Gideon en die 100 soldate saam met hom by die grens van die kamp aankom. Hulle het skielik op hulle trompette geblaas en die kleipotte stukkend gebreek.

20. Die ander twee groepe het presies dieselfde gedoen. Hulle het hulle fakkels in hulle linkerhand vasgehou en hulle trompette in die regterhand en hard geskree: “Die swaard vir die Here en vir Gideon!”

21. Gideon se soldate het almal op hulle plekke rondom die kamp bly staan en kyk hoe die vyandelike soldate doodbang weghardloop.

22. Want terwyl Gideon se soldate op hulle trompette geblaas het, het die Here die vyand se soldate onder mekaar laat baklei. Dié wat nie in hierdie geveg dood is nie, het in die rigting van Sereda tot so ver as Bet-Sitta gevlug en ander weer tot by die grens van Abel-Megola, naby Tabbat.

23. Gideon het die soldate van die stamme Naftali en Aser en die hele Manassestam opgeroep om die vlugtende Midianiete te agtervolg.

24. Hy het ook boodskappers na die bergagtige gebied van Efraim toe gestuur met die opdrag: “Kom af en val die Midianiete aan. Sny hulle af by die vlak dele van die Jordaanrivier tot by Bet-Bara sodat hulle nie kan ontsnap nie.” Die soldate van Efraim het dit gedoen.

25. Hulle het die twee Midianitiese generaals, Oreb en Seëb, gevange geneem. Vir Oreb het hulle by die rots van Oreb doodgemaak en vir Seëb by die parskuip van Seëb. Hulle het die Midianiete verder agtervolg. Daarna het die soldate van Efraim die koppe van Oreb en Seëb vir Gideon gebring waar hy aan die westekant van die Jordaanrivier was.

Lees volledige hoofstuk Rigters 7