Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 6:7-24 Die Boodskap (DB)

7. Toe hulle by die Here hulp teen die Midianiete soek,

8. het Hy vir hulle ’n profeet gestuur wat vir hulle gesê het: “So sê die Here die God van Israel: Ek het julle uit Egipte gered waar julle slawe was.

9. Ek het julle uit die mag van die Egiptenaars verlos en julle vrygemaak van al die volke wat julle in hierdie land verdruk het. Ek het hulle voor julle uit weggejaag en hulle land vir julle gegee.

10. Ek het vir julle gesê: ‘Ek is die Here julle God. Julle mag glad nie die gode van die Amoriete in wie se land julle bly, aanbid nie.’ Maar julle het nie na My geluister nie.”

11. Daarna het die Engel van die Here onder die eikeboom in Ofra gaan sit wat aan Joas die Abiësriet behoort het. Sy seun Gideon was besig om koring in die parskuip uit te slaan waar die Midianiete hom nie kon sien nie.

12. Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”

13. Toe antwoord Gideon: “Verskoon my dat ek vra, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom gebeur al hierdie slegte goed met ons? Wat het van al die wonderlike dinge geword waarvan ons voorvaders ons vertel het? Het hulle nie gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gered’ nie? Maar nou het die Here ons aan ons eie lot oorgelaat en ons in die Midianiete se mag oorgegee.”

14. Toe draai die Here na Gideon toe en sê vir hom: “Jy het die krag. Gaan bevry die Israeliete uit die Midianiete se mag! Gaan nou, Ek stuur jou!”

15. “Ekskuus, Meneer,” sê Gideon, “maar waarmee moet ek die Israeliete red? My familie is die armste in die stam van Manasse en in my eie gesin is ek nie juis belangrik nie.”

16. Toe sê die Here: “Jy kan hulle red, want Ek gaan jou help. Jy sal die Midianiete so maklik verslaan asof dit net een mens is teen wie jy baklei.”

17. Toe sê Gideon: “Mag ek U ’n guns vra: doen asseblief vir my ’n wonderwerk dat ek seker kan wees dat U wel die Here is wat nou met my praat.

18. Moet asseblief nie van hier af weggaan voordat ek terug is en vir U ’n offer kon bring nie.” “Ek sal wag tot jy terugkom,” het die Here geantwoord.

19. Gideon is terug huis toe, waar hy ’n jong bokkie gaargemaak en ’n brood gebak het. Vir die brood het hy ongeveer sestien kilogram meel sonder suurdeeg gebruik. Hy het die vleis in ’n mandjie gesit en die sous in ’n bakkie gegooi. Toe gaan hy terug na die Engel onder die eikeboom.

20. Toe hy daar kom, sê die Engel van God vir hom: “Sit die vleis en die brood op die rots neer en gooi die sous daaroor uit.” Gideon het dit gedoen.

21. Die Engel van die Here raak toe met die punt van die stok wat Hy in sy hand gehad het aan die vleis en die brood. Skielik kom daar ’n vlam uit die rots uit wat die vleis en die brood heeltemal verbrand. Toe Gideon weer kyk, was die Engel van die Here weg.

22. Toe Gideon agterkom dat hy die Engel van die Here gesien het, het hy baie benoud gesê: “O, Here my God, ek het die Engel van die Here met my eie oë gesien. Nou is ek in groot moeilikheid!”

23. Toe sê die Here vir Gideon: “Toemaar, moenie bang wees nie, jy sal niks oorkom nie.”

24. Gideon het daar op die plek vir die Here ’n altaar gebou. Hy het dit genoem: “Die Here gee vrede.” Die altaar staan nou nog daar in Ofra in die gebied van die Abiësriete.

Lees volledige hoofstuk Rigters 6