Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11:14-32 Die Boodskap (DB)

14. Jefta het sy boodskappers met die volgende antwoord teruggestuur:

15. “Ek wat Jefta is, sê vir jou jy praat nie die waarheid nie. Israel het nie Moab of Ammon se grond gesteel nie.

16. Ek sal jou vertel wat gebeur het. Toe Israel uit Egipte weg is, het hulle deur die woestyn tot by die Rietsee getrek en van daar af verder tot hulle by Kades aangekom het.

17. Van daar af het hulle boodskappers na die koning van Edom toe gestuur en toestemming gevra om deur sy land te trek, maar hy wou dit nie toelaat nie. Hulle het presies dieselfde ding vir die koning van Moab gevra, maar hy wou ook niks daarvan weet nie. Daarom het die Israeliete in Kades gebly.

18. Uiteindelik het hulle deur die woestyn, óm die gebiede van Edom en Moab getrek. Hulle het aan die oostekant van Moab kamp opgeslaan aan die oorkant van die Arnonrivier. Maar hulle het nooit oor die Arnonrivier in Moab se gebied ingegaan nie.

19. Van daar af het Israel boodskappers na koning Sihon van die Amoriete toe gestuur. Hy het in Gesbon gewoon. Hulle het hom gevra om hulle toe te laat om deur sy gebied na hulle land toe te trek,

20. maar Sihon het hulle nie genoeg vertrou om hulle deur sy gebied te laat trek nie. Trouens, hy het sy weermag by Jahas bymekaar laat kom en teen Israel begin veg.

21. Maar die Here, die God van Israel, het vir sy volk die oorwinning gegee en hulle het die hele gebied van die Amoriete vir hulleself ingeneem,

22. van die Arnonrivier af tot by die Jabbokrivier en van die woestyn af tot by die Jordaanrivier.

23. “Jy sien, dit was die Here, die God van Israel, wat die Amoriete se land vir Israel gegee het.

24. Gaan jy dit nou probeer terugvat? Jy kan hou wat jou god Kemos vir jou gegee het. Maar ons hou alles wat die Here ons God vir ons gegee het.

25. Of dink jy dalk jy is beter as Sippor se seun Balak, die koning van Moab? En tog het hy Israel nooit aangevat oor grond of teen ons probeer oorlog maak nie.

26. Nou wil jy na 300 jaar die saak aanroer! Intussen bly Israel van toe af al in Gesbon en sy omringende dorpe en net so ook in Aroër met sy omringende dorpe en in die dorpe op die walle van die Arnonrivier. Waar kom jy nou skielik vandaan?

27. Ek het niks aan jou gedoen nie. Maar die feit dat jy nou teen my kom oorlog maak, is verkeerd. Laat die Here wat regter is, besluit wie is reg: Israel of Ammon.”

28. Die koning van Ammon het hom egter nie aan Jefta gesteur nie.

29. Toe het die Gees van die Here oor Jefta gekom en hy het deur die gebiede van Gilead en Manasse getrek, verby tot by Mispa in Gilead. Van daar af het hy sy weermag teen die Ammoniete uitgelei.

30. Jefta het ’n plegtige belofte aan die Here gemaak en gesê: “As U vandag vir my ’n oorwinning oor die Ammoniete gee,

31. sal ek die eerste persoon wat my uit my huis tegemoetkom ná my oorwinning oor die Ammoniete as ’n brandoffer aan U offer.”

32. Jefta het die rivier oorgesteek om teen die Ammoniete te veg. Die Here het hom laat wen.

Lees volledige hoofstuk Rigters 11