Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 19:8-22 Die Boodskap (DB)

8. Die persoon wat die koei verbrand het, moet ook sy klere was en bad. Hy is ook vir die res van die dag onrein.

9. ’n Rein persoon moet dan die as van die koei bymekaarmaak en dit buite die kamp op ’n skoon plek gaan bêre. Die Israeliete moet hierdie as saam met die reinigingswater gebruik. Die doel van hierdie ritueel is om vir hulle sonde vergifnis te vra.

10. Die persoon wat die koei se as bymekaargemaak het, moet ook sy klere was, maar hy sal ook vir die res van die dag onrein wees. Hierdie is ’n permanente gebruik wat geld vir die Israeliete en vir die mense van ander volke wat by hulle bly.”

11. “Iemand wat aan ’n lyk raak, mag vir ’n week nie enige amptelike godsdienstige funksies verrig by die tent waar Ek aanbid word nie.

12. So ’n persoon moet homself op die derde en die sewende dag met die reinigingswater was, en dan kan hy weer godsdienstige take verrig. Indien hy dit nie presies so doen nie, bly hy onrein.

13. As iemand aan ’n lyk geraak het en homself nie op hierdie manier gereinig het nie, en hy kom by die tent waar Ek aanbid word, maak hy dit onrein. Dan moet die ander Israeliete hom wegjaag uit hulle midde, want hy bly onrein.

14. “Wanneer iemand in ’n tent doodgaan, is elkeen wat in daardie tent ingaan en alles wat daarbinne is, vir sewe dae onrein.

15. Elke houer met kos of water wat nie ’n deksel opgehad het nie, is ook onrein.

16. Enigiemand wat in die veld aan die liggaam raak van ’n soldaat wat dood is, of selfs aan ’n persoon wat aan natuurlike oorsake dood is, of selfs aan ’n geraamte of ’n graf, mag vir sewe dae geen amptelike godsdienstige take in die tent verrig of daar naby kom nie.

17. “As iemand op hierdie manier onrein geword het, moet die persoon van die as van die offer vat wat vir mense se sondes geoffer word, dit in ’n pot sit en vars water daaroor gooi.

18. Dan moet iemand anders wat rein is, ’n hisoptakkie vat en dit in die water druk. Met hierdie takkie moet hy dan van die water oor die tent sprinkel, en oor al die voorwerpe en houers in die tent en ook oor die mense wat betrokke was. Dieselfde prosedure moet gevolg word in die geval van iemand wat aan ’n lyk, iemand wat vermoor is, ’n geraamte of ’n graf geraak het.

19. Die rein persoon moet hierdie water op die derde en sewende dag op die onrein persoon sprinkel. Op die sewende dag moet die persoon wat nie aan enige amptelike godsdienstige aktiwiteite kan deelneem nie, homself skoon was. Sy klere ook. Teen die aand sal hy dan weer rein wees.

20. “As iemand wat onrein is homself nie op dié manier gereinig het nie, moet hy uit die midde van Israel weggejaag word, want hy het die Here se heilige tent met sy eie onreinheid besoedel. Daarom mag hy nie meer as ’n Israeliet behandel word nie.

21. Dit is ’n permanente reël. Die persoon wat die reinigingswater sprinkel, moet agterna ook sy klere was. Enige persoon wat aan die reinigingswater raak, sal vir die res van die dag onrein wees.

22. Enigiemand of enigiets waaraan ’n onrein persoon raak, bly vir die res van daardie dag onrein.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 19