Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 18:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het vir Aäron gesê: “Jy en jou seuns en julle familielede uit die stam van Levi sal verantwoordelik gehou word as enigiets met die werk by die tent waar Ek aanbid word, verkeerd loop. Maar net jy en jou seuns sal in die moeilikheid wees as iets verkeerd loop in die werk van die priesters.

2. Kry manne uit die stam van Levi om jou en jou seuns met julle pligte by die tent te help.

3. Hulle mag julle help met alles wat julle in die tent moet doen. Maak net seker dat hulle nie naby die altaar kom of aan die offergereedskap vat nie, want dan sal julle beslis almal doodgaan.

4. Hulle is die enigste mense wat julle mag help met die take wat in die tent gedoen moet word. Iemand wat nie ’n Leviet is nie, mag nie daar naby kom nie.

5. Maar net jy en jou seuns mag diens doen in die heilige deel van die tent en die offers op die altaar bring. As julle dit presies doen soos Ek sê, sal Ek, die Here, nie weer vir Israel straf nie.

6. Ek gee die Leviete vir julle om julle te help. Hulle is opsy gesit om in die tabernakel vir My diens te doen. Hulle behoort aan My.

7. Maar net jy en jou seuns mag die werk van die priesters doen, daar by die altaar en agter die gordyn in die heiligste deel van die tent. My geskenk aan julle is dat julle priesters mag wees in my diens. As iemand anders wat nie ’n priester is nie, dit probeer doen, moet hy doodgemaak word.”

8. Die Here het vir Aäron gesê: “Ek het jou uitgekies om toesig te hou oor al die offers wat vir My gebring word. Al daardie dele van die offers wat nie heeltemal verbrand word nie, behoort aan jou en jou seuns. Hierdie reël geld vir altyd.

9. Selfs daardie dele van die spesiale offers wat nie heeltemal verbrand word nie, behoort aan jou en jou seuns. Dit sluit elkeen van die volgende soorte offers in: graanoffers, sondeoffers en skuldoffers.

10. Hierdie dele van die offers wat julle toekom, moet julle in ’n afgesonderde plek eet. Julle moet onthou dat hierdie kos baie spesiaal is omdat dit eintlik aan My behoort. Slegs die mans mag daarvan eet.

11. “Daar is nog ander offers wat ook aan julle behoort. Al die offers wat die Israeliete bring wat heen en weer voor My beweeg word, behoort ook aan jou en jou seuns en dogters. Elkeen in jou huis wat voldoen aan my voorskrifte om My te dien by die tent waar Ek aanbid word, mag daarvan eet. Dit is weereens ’n vaste reëling wat vir altyd geld.

12. Ook die eerste opbrengs van die jaarlikse oeste wat hulle altyd vir My bring, behoort aan julle. Dit sluit in olyfolie, wyn en koring.

Lees volledige hoofstuk Numeri 18