Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 8:13-19 Die Boodskap (DB)

13. Die mense is toe daar weg en het gaan feesvier. Hulle het hulle kos met mekaar gedeel. Almal was opgeruimd en vrolik omdat hulle God se woord gehoor en verstaan het.

14. Die volgende dag het die hoofde van al die families, die priesters en die Leviete by Esra bymekaargekom om die wet van God verder te bestudeer.

15. Hulle ontdek toe dat die Here deur Moses beveel het dat die Israeliete gedurende die fees wat in die sewende maand gevier word in hutte moet bly.

16. Hulle het toe die volgende boodskap na Jerusalem en al die omringende dorpe en stede toe gestuur: “Gaan soek in die heuwels na olyftakke, olienhouttakke, mirteboomtakke, palmtakke en ander digteblaartakke. Maak dan volgens die voorskrif wat die wetboek gee vir julle hutte waarin julle gedurende die feestyd kan bly.”

17. Die mense is toe daar weg en nadat hulle die takke gaan haal het, het hulle hutte gebou. Party het hulle hut op hulle huis se dak gebou, ander in die binnepleine. Party het selfs op die binneplein van die tempel hutte gebou. Ander se hutte het weer by die Waterhek en die Efraimshek gestaan.

18. Al die mense wat uit die ballingskap teruggekom het, het vir hulle ’n hut gebou en daarin gaan bly. Dit was iets wat die Israeliete in Josua se tyd laas op so ’n skaal gedoen het. Almal was opgewonde en bly hieroor.

19. Esra het elke dag, vir die volle duur van die fees, ’n gedeelte van die wet van die Here voorgelees. Die fees het sewe dae geduur en op die agtste dag is daar ’n plegtige afsluitingseremonie gehou.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 8