Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 6:4-15 Die Boodskap (DB)

4. As dit dan gebeur dat hy op een van hierdie maniere oortree het en skuldig is, moet hy alles wat hy verkeerdelik gevat het, teruggee. Hy moet die persoon wat hy uitgebuit het, vergoed. Ook dit wat iemand vir hom gegee het om op te pas moet hy teruggee. So ook die ding wat iemand verloor het wat hy opgetel het.

5. Wanneer hy op sy oortreding gewys word, moet hy vir alles waaroor hy gelieg het, weer goed maak. Hy moet dit met ’n vyfde vermeerder vir die persoon vir wie hy dit skuld.

6. Hy moet vir sy skuld vir die Here ’n ram sonder gebrek uit sy kudde bring wat net soveel werd is as ’n offer. Daarmee sal hy sy verhouding met God herstel. Hy moet dit na die dienaar by die tent bring.

7. Die dienaar sal daarmee sy skuld by die Here betaal. Alles wat hy verkeerd gedoen het en waardeur hy skuldig geword het, sal hom dan vergewe word.”

8-9. Die Here het verder ook nog vir Moses beveel om aan Aäron en sy seuns voorskrifte te gee vir die offers wat verbrand moet word: “Dit moet heelnag in die vuur op die altaar gelos word tot die volgende oggend toe. Die vuur op die altaar moet die heeltyd bly brand.

10. Die amptenaar by die tent trek sy spesiale linnehemp en linnebroek wat daarby pas, aan. Hy vat dan die vet weg wat in die vuur uit die brandoffer uitgebraai het. Hy sit dit langs die offerplek op die grond neer.

11. Dan trek hy die spesiale klere uit en trek weer sy gewone klere aan. Hy vat die vet uit die kamp uit weg na die plek wat daarvoor eenkant gesit is buite die kamp.

12. Die vuur moet altyd op die altaar aan die brand bly. Dit mag nooit doodgaan nie. Die dienaar moet elke oggend weer nuwe hout op die vuur gooi om dit aan die brand te hou. Hy moet die offer wat verbrand word om sy verhouding met die Here te herstel bo-op die hout sit en die vet van die offer daarop uitbraai.

13. Die vuur moet altyd aan die brand bly daar op die altaar. Dit mag nooit doodgaan nie.”

14. Die aanwysings vir die graan wat vir die Here gebring word, is soos volg: “Aäron se seuns wat by die tent werk, bring die graan na die offerplek toe daar voor die Here.

15. Die werker by die tent van ontmoeting vat ’n hand vol van die gemaalde graan saam met die olie en die geurige wierookstokkies wat daarop is. Hy verbrand alles op die altaar as die deel wat die hele offer verteenwoordig. Dit is ’n offer waarvan die Here baie hou.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 6