Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 7:1-9 Die Boodskap (DB)

1. In die tyd toe koning Agas (hy was die seun van Jotam en die kleinseun van Ussia) koning van Juda was, het koning Resin van Sirië en koning Peka van Israel (hy was Remalja se seun) Jerusalem aangeval. Die aanval het egter misluk.

2. Toe koning Agas (’n koning uit die nageslag van Dawid) die boodskap kry dat die Siriërs ’n samewerkingsooreenkoms met die noordelike gebied van Israel aangegaan het, het hy en sy mense so bang geword dat hulle aan die bewe geraak het. Hulle het behoorlik soos bome gelyk wat deur die wind rondgewaai word.

3. Die Here het toe vir Jesaja gesê: Jy en jou seun Sear-Jasub moet na koning Agas toe gaan. Hy is daar langs die pad waar die kleremakers werk, naby die onderpunt van die kanaal wat van die boonste dam af kom.

4. Sê vir hom: Bly kalm! Moenie nou kop verloor en bang word nie! Die dreigemente van koning Resin en sy Siriërs en van koning Peka, Remalja se seun, beteken net so min soos twee stompe hout wat klaar uitgebrand het en nou net staan en rook.

5. Natuurlik is hulle besig om ’n komplot teen jou te smee.

6. Hulle beplan om Juda aan te val en te oorrompel sodat hulle die land vir hulleself kan vat en die seun van Tabeal as hulle eie koning oor Juda kan aanstel.

7. Maar nou sê Ek, die Here jou God, vir jou: Dit sal nooit gebeur nie!

8. Want Sirië is nie sterker as sy hoofstad, Damaskus, nie, en Damaskus het niks anders om op staat te maak as koning Resin nie. Wat Efraim betref, binne 65 jaar sal hulle so uitmekaargejaag wees dat hulle nie eers meer ’n volk genoem sal word nie.

9. Want Israel is nie sterker as sy hoofstad, Samaria, nie, en Samaria het niks anders om op staat te maak as koning Peka nie. En julle? As julle nie in geloof vasstaan nie, sal julle ook nie voortbestaan nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 7