Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 44:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Jakob behoort aan My. Ek het Israel gekies om Myne te wees. Luister na wat Ek vir jou sê, Jakob-Israel.

2. Die Here het jou gemaak. Hy het jou nog altyd gehelp vandat Hy jou in die lewe gebring het. Hy sê vir jou: Jy moenie bang wees nie, Jakob. My liewe Jesurun wat Ek gekies het om aan My te behoort, jy hoef nie te vrees nie.

3. Ek sal water gee in die plekke waar dit baie droog is. Daar sal waterstrome loop waar die grond uitgedroog is. Ek sal my Gees in jou kinders laat kom. Ek sal krag gee vir jou nageslag.

4. Hulle sal wees soos gras wat uitloop, soos wilgerbome wat langs die water staan.

5. Die een sal sê: “Ek behoort aan die Here.”Die ander sal sê: “Ek is ’n afstammeling van Jakob.”Nog ’n ander een sal op sy hand skryf: “Die Here s’n.” En ’n ander een sal homself ’n Israeliet noem.

6. Die Here is Israel se koning. Die Here wat die hemelse leërmag aanvoer, sal Israel bevry. Hy sê: Ek is God van ewigheid af tot in ewigheid. Daar is nie ’n ander God behalwe Ek nie.

7. As iemand dink dat hy soos Ek is, moet hy dit sê. Hy moet dit kom bewys. Hy moet kom sê wat in die verlede met my volk gebeur het. Hy moet ook sê wat nog alles met hulle gaan gebeur.

8. Moenie skrik nie. Hou op om bang te wees. Ek het mos lankal al vir julle gesê wat gaan gebeur. Julle is my getuies: daar is net eenvoudig geen ander god behalwe Ek nie. Ek weet van niemand anders op wie julle kan vertrou nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 44