Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 33:7-22 Die Boodskap (DB)

7. Die soldate is verslae omdat hulle Jerusalem nie kon verdedig teen die vyand se oormag nie. Die ambassadeurs wat gestuur is om ’n vredesooreenkoms te probeer bewerk huil van teleurstelling omdat hulle dit nie kon regkry nie.

8. Die paaie sal verlate lê omdat dit te gevaarlik sal wees om te gebruik. Die verwoester steur hom nie aan ooreenkomste of kontrakte wat hy voor getuies aangegaan het nie, hy doen net wat hy wil, want hy het geen respek vir enigiemand nie.

9. Die land verdroog en gaan agteruit. Op die Libanon is die bome in die woud besig om dood te gaan. Die vrugbare vlakte van Saron lyk soos ’n woestyn. In Basan en op die berg Karmel val die bome se blare af soos hulle doodgaan.

10. Nou gaan Ek ingryp, sê die Here, Ek sal julle wys hoe magtig Ek is!

11. Al die planne wat julle gemaak het, is nutteloos, julle sal niks regkry nie. Die verskriklike goed waarmee julle ander nasies gedreig het, sal omgekeer word en soos ’n verwoestende vuur op julle neerkom.

12. Julle mense sal totaal vernietig word soos die klippe wat verbrand word om kalkpoeier te maak. Hulle sal tot as verbrand word soos ’n hoop droë doringtakke wat aan die brand gesteek word.

13. Vertel vir al die volke wat Ek gedoen het, of hulle naby is of ver, sodat hulle my mag sal erken.

14. Maar ook die sondaars en slegte mense in Jerusalem bewe van vrees. Hulle sê: “Die Here se oordeel is soos ’n verwoestende vuur wat vir ewig bly brand. Hoe kan ons hoop om in sy teenwoordigheid te oorleef?”

15. Slegs iemand wat ’n eerlike lewe lei en die waarheid praat, wat nie ander afpers om geld te maak nie en niks met omkopery te doen het nie, het die reg om naby die Here te kom. Moenie eers na iemand luister wat ’n moord of misdaad beplan nie.

16. As ’n mens so lewe, sal jy so veilig wees soos iemand wat in ’n sterk fort bly wat van klip gebou is en hoog op ’n berg staan met ’n oorvloed kos en water.

17. Met julle eie oë sal julle ’n koning sien wat in al sy koninklike majesteit oor ’n groot en uitgestrekte land regeer.

18. Die gedagte aan die tye van vreemde belastinggaarders en spioene wat die stad se militêre mag kom verken het, sal net ’n vae herinnering wees.

19. Julle sal daardie vermetele volk met die taal wat julle nie kan verstaan nie, nooit weer sien nie.

20. Maar kyk na Jerusalem, die stad waarin die feeste vir die Here gehou word. Jerusalem, ’n veilige, permanente blyplek. Dit is soos ’n tent wat nooit geskuif word nie, waarvan die tentpenne stewig en vas in die grond ingekap is en die toue wat dit regop hou, nooit breek nie.

21. Daar sal die Here vir ons sy mag wys. Ons sal langs breë riviere en strome bly, maar daar sal nie vyandige skepe op vaar wat ons kan aanval nie,

22. want die Here is ons Regter, ons Wetgewer en ons Koning. Hy sal ons red.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 33