Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 30:18-32 Die Boodskap (DB)

18. En tog wag die Here nog altyd vir ’n kans om julle te wys hoe goed Hy vir julle is. Hy is reg om enige oomblik in te gryp omdat Hy julle jammer kry, want die Here is ’n God wat reg laat geskied. Dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.

19. Luister, mense van Sion, julle wat in Jerusalem woon, julle hoef nie meer te huil nie. Die Here sal julle help as Hy hoor julle roep na Hom en vra vir sy hulp. Hy sal julle gebede verhoor die oomblik wat Hy dit hoor.

20. Al het die Here vir julle verdrukking vir kos en swaarkry vir water gegee, sal julle sien dat Hy nog steeds bereid is om julle te leer.

21. Wanneer julle die pad byster raak, sal julle sy stem agter julle hoor sê: “Hier is die regte pad, loop hierlangs.”

22. Dan sal julle van al julle vuil goue en silwer afgode ontslae raak. Julle sal hulle soos ou, vuil lappe weggooi en sê: “Sies, ons wil die goed nie weer sien nie!”

23. Dan sal die Here julle in die planttyd met genoeg reën seën sodat julle wonderlike oeste sal hê. Daar sal volop weiding vir julle vee wees.

24. Die osse en die donkies wat julle gebruik om mee te ploeg sal goeie kos kry wat spesiaal vir hulle voorberei is.

25. Op die dag as julle vyande verslaan en hulle forte vernietig word, sal daar strome water van elke heuwel en berg af vloei.

26. Dan sal die maan net so helder soos die son skyn en die son sal sewe keer skerper as gewoonlik wees, byna asof al die sonlig van sewe dae bymekaargesit is op een dag. Dit is hoe dit sal lyk op dié dag wanneer die Here sy volk se stukkende plekke verbind en die wonde wat Hy hulle toegedien het, weer gesond maak.

27. Kyk, die Here kom van ver af. Hy is woedend kwaad. As Hy praat, is sy woorde soos weerligstrale wat vuur en rook uit die grond slaan.

28. Sy asem is soos ’n diep stroom water wat tot by jou nek kom en jou saamsleep. Hy kom om die nasies uit te sif soos ’n mens meel sif. Hy neem hulle gevange en vat hulle waarheen Hy wil, net soos ’n mens met ’n perd maak waarvoor jy ’n toom aangesit het: hy moet loop net waarheen jy hom lei.

29. Maar julle sal sing soos in die nag voor een van die heilige feeste. Julle sal bly wees soos wanneer ’n fluitspeler die groep pelgrims na Jerusalem, na die berg van die Here toe lei; Hy, die Beskermer van Israel.

30. Dan sal die Here sy magtige stem laat hoor en die volle krag van sy woede laat neerreën in vlamme saam met ’n wolkbreuk, ’n storm en hael.

31. Die Assiriërs sal doodbang wees as hulle die Here se stem hoor en die mag van sy woede ervaar.

32. En die Here se volk sal met simbale en harpe tyd hou van elke hou waarmee die Here hulle slaan.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 30