Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 28:15-25 Die Boodskap (DB)

15. Julle loop en spog dat julle onsterflik is, dat julle ’n ooreenkoms met die dood het. Julle dink die vloedgolf van die aanvallers wat op julle afkom, kan niks aan julle doen nie omdat julle agter ’n muur van leuens en bedrog skuil, asof julle die dood kan uitoorlê.

16. Die Here wat oor alles regeer, het vir julle ’n boodskap: Ek lê ’n fondament in Sion en sit ’n hoeksteen van graniet daarop neer wat sterk en veilig is om op te bou. Iemand wat op die Here vertrou, hoef nie paniekerig te word en te vlug nie.

17. Ek gaan die meetstok van reg en die waterpas van geregtigheid gebruik om julle bouwerk te toets. Julle dink julle mure is stewig, maar omdat dit op leuens gebou is, sal dit verkrummel soos wanneer ’n haelstorm deur ’n gebied trek en verwoesting saai. Omdat dit op bedrog rus, sal die vyand kom en soos ’n vloedgolf daaroor spoel.

18. Dan sal daar van julle sogenaamde ooreenkoms met die dood en julle onsterflikheid net mooi niks oorbly nie. As die aanvallers op julle afstorm, sal hulle julle met die grond gelykmaak.

19. Weer en weer sal hulle aanval, sonder ophou, dag na dag, enige tyd van die dag of nag. Iemand wat hierdie boodskap verstaan, sal angsbevange raak.

20. Al julle planne sal niks help nie. Dit is soos die spreekwoord wat sê dit help nie om jou te probeer uitstrek op ’n bed wat te kort is of om jou behoorlik te probeer toemaak met ’n kombers wat te klein is nie.

21. Net soos die Here by die berg Perasim die Filistyne in sy woede platgeloop het en by Gibeon die Ammoriete verslaan het, so kom die Here nou met sy volk afreken. So vreemd as wat dit klink, die Here sal doen wat Hy moet doen.

22. Staak julle ligsinnigheid, anders gaan julle straf nog erger wees as wat ek gesê het. Die Here, die Almagtige, het reguit vir my gesê dat Hy vasbeslote is om die hele land te vernietig.

23. Ek pleit by julle, luister na my!

24. As ’n boer wil saai, hou hy mos nie net aan om te ploeg en die grond voor te berei nie.

25. As hy die grond klaar voorberei en gelykgemaak het, begin hy mos om die verskillende soorte saad te saai. Die kruie saai hy in klein beddinkies. Op die groot lande saai hy die koring en die gars, en op die kleiner lande saai hy ander gewasse soos lusern.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 28