Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 1:19-31 Die Boodskap (DB)

19. As julle na My wil luister en My toelaat om julle te help, sal julle ’n goeie bestaan in hierdie land kan maak,

20. maar as julle weier en aanhou rebelleer, staar julle oorlog in die gesig. Dit is wat die Here gesê het.

21. Jerusalem, hoe het jy nie verander nie! Die stad wat eens op ’n tyd getrou was aan die Here het soos ’n ontrou straatvrou geword wat agter ander mans aanloop. Daar was ’n tyd dat jy ’n plek was waarin eerlike en ordentlike mense gebly het, maar jy het nou ontaard in ’n wegkruipplek vir moordenaars.

22. Eens op ’n tyd was jy soos egte silwer, so mooi en so skoon, maar nou het jy soos ’n stuk nuttelose lood geword, soos goeie wyn wat met water verdun is en na niks smaak nie.

23. Jou leiers is oproermakers, hulle grootste vriende is skelms, want hulle is almal korrup en alte lief vir omkoopgeskenke. Maar as dit by die weeskinders en die weduwees kom wat gehelp moet word, wil hulle niks met die saak te doen hê nie.

24. Daarom sê die Here, die magtige God van Israel wat seggenskap het oor alles: Ek sal met julle, my vyande, afreken sodat julle My nie verder kan pla nie.

25. Ek gaan teen julle optree. Soos ’n mens silwer smelt en al die onsuiwerheid daaruit haal, so gaan Ek julle smelt en al die gemors uit julle uitkry.

26. Ek sal weer vir jou goeie leiers en raadgewers gee soos dié van vroeër. Dan sal Jerusalem weer die stad van geregtigheid wat getrou is aan die Here, genoem word.

27. Omdat die Here regverdig is, sal Hy al die mense van Jerusalem red wat hulle sonde bely en terugdraai na Hom toe.

28. Maar Hy sal al die sondaars en opstandiges saam vernietig. Hy sal dié wat die rug vir Hom gedraai het, voor Hom wegvee.

29. Dan sal julle skaam kry oor die akkerbome wat julle aanbid het as heilige bome en die tuine waar julle so graag geoffer het.

30. Dan sal julle self soos verdroogde akkerbome lyk, soos ’n tuin wat nooit water kry nie.

31. Die sterkste onder julle sal soos ’n hoop droë strooi wees. Die vonk wat hierdie strooi aan die brand steek en laat uitbrand, is niks anders as julle eie dade nie. Daar sal niemand wees wat hierdie vuur kan blus nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 1