Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 1:13-22 Die Boodskap (DB)

13. Hou op om hier aan te kom met julle offers. Ek sien reg deur julle skynheiligheid! Julle wierookoffers stink vir My! Ek kan dit nie vat dat julle aanhou sonde doen en dan nog steeds ewe vroom hier na die tempel toe kom vir die nuwemaansfeeste en sabbatvierings nie.

14. Ek haat julle rusdae en feeste. Ek is moeg daarvoor, Ek kan dit nie meer verdra nie.

15. Al steek julle julle hande uit na My toe as julle bid, Ek kyk nie eens na julle nie. Julle kan soveel bid as wat julle wil, Ek sal nie na julle luister nie, want julle is almal ’n klomp moordenaars.

16. Gaan kry eers julle lewens reg. Hou op om al hierdie verkeerde goed te doen. Los die slegte goed waarmee julle besig is!

17. Leer eerder hoe om weer goed te doen en sorg dat mense billik en onpartydig behandel word. Help dié wat misbruik word en beskerm die regte van dié wat nie vir hulleself kan sorg en nie al die geleenthede in die lewe het nie.

18. Kom ons handel dié saak nou af, sê die Here. Dit maak nie saak hoe diep die vlekke van julle sonde is nie, Ek kan dit skoonmaak. Al was julle bloedrooi gevlek van die sonde, kan Ek dit wegwas en julle so wit laat word soos sneeu wat nou net geval het. Selfs al is die vlekke van julle sonde purperrooi, sal Ek julle skoonmaak sodat julle so wit soos splinternuwe wol sal lyk.

19. As julle na My wil luister en My toelaat om julle te help, sal julle ’n goeie bestaan in hierdie land kan maak,

20. maar as julle weier en aanhou rebelleer, staar julle oorlog in die gesig. Dit is wat die Here gesê het.

21. Jerusalem, hoe het jy nie verander nie! Die stad wat eens op ’n tyd getrou was aan die Here het soos ’n ontrou straatvrou geword wat agter ander mans aanloop. Daar was ’n tyd dat jy ’n plek was waarin eerlike en ordentlike mense gebly het, maar jy het nou ontaard in ’n wegkruipplek vir moordenaars.

22. Eens op ’n tyd was jy soos egte silwer, so mooi en so skoon, maar nou het jy soos ’n stuk nuttelose lood geword, soos goeie wyn wat met water verdun is en na niks smaak nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 1