Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 8:5-13 Die Boodskap (DB)

5. Vertel My, waarom hou hierdie mense aan om af te dwaal? Hoekom hou die mense van Jerusalem aan om My te bedrieg en weier hulle om na My toe terug te kom?

6. Ek het fyn geluister na hulle praatjies. Hulle praat nie die waarheid nie. Nie eens een van hulle is spyt oor die verkeerde dinge wat hulle doen nie. Niemand van hulle sê: ‘Watse verskriklike ding het ek aangevang!’ nie. Nee, hulle hou net aan voortstorm op hierdie verkeerde koers wat hulle gekies het, soos ’n perd wat in ’n geveg instorm.

7. Die trekvoëls, soos die ooievaar, die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël, weet as dit tyd is om na ’n ander omgewing te vlieg. Elke jaar wanneer die seisoen verander, kom hulle terug. Maar dit is nie so met my volk nie,” sê die Here. “Hulle weet kastig nie wat Ek van hulle verwag nie!

8. “Hoe kan julle sê: ‘Ons het kennis, want ons het die voorskrifte van die Here’? Die skrywers wat hierdie voorskrifte neergeskryf het, het daaraan verander en dit verdraai.

9. Hierdie kamstige slim skrywers sal in die skande kom, want hulle is verward en vasgevang in hulle eie manier van dink en doen. Hulle dink niks van wat Ek, die Here, sê nie. Is hulle dan nou so danig slim?

10. Ek sal hulle vroue en hulle plase vir ander mense gee. Almal van hulle, of hulle nou klein of groot is, wil ryk word, al is dit nou ook deur ’n ander mens te bedrieg. Selfs die sogenaamde profete van die Here en die godsdienstige leiers doen oneerlike dinge.

11. Hulle gee sommer goedkoop oplossings vir die probleme van my volk. Hulle maak of alles reg is as hulle sê ‘vrede, vrede’ terwyl dit allesbehalwe rustig en vreedsaam gaan.

12. Is hulle miskien skaam oor al die afstootlike goed wat hulle doen? Nee, hulle bloos nie eens nie. Hulle het nie ’n idee wat dit is om skaam te wees nie. Hulle sal ondergaan soos ander mense voor hulle ondergegaan het. Wanneer Ek hulle straf, sal dit klaarpraat wees met hulle,” sê die Here.

13. Die Here het ook gesê: “Juda was soos ’n boord wat geen vrugte dra nie. Nutteloos! Hulle lewer niks goeds op nie. Hulle is soos ’n wingerd sonder druiwe of soos ’n vyeboom sonder vye. Selfs die blare is verdroog. Daarom sal hulle al die goeie dinge verloor wat Ek vir hulle gegee het.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 8