Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 7:18-29 Die Boodskap (DB)

18. Dit maak My woedend! Die kinders maak hout bymekaar. Die pa’s is besig om vuur te maak. Die vroue knie deeg en bak koeke vir die afgod wat hulle die koningin van die hemel noem. Vir hulle ander afgode bring hulle drank om hulle te plesier.

19. Ek wil vra: Wat dink hulle, dat Ek nou eintlik die een is wat gaan seerkry? Nee, hulle trek aan die kortste end. Hulle veroorsaak hulle eie seerkry en vernedering.”

20. Daarom sê die Here wat die meeste mag van almal het: “Ek sal hierdie land my woede en my straf laat voel. My woede is soos ’n vuur wat nie doodgemaak kan word nie. Dit sal al die mense, diere, bome en die oeste op die land verteer.”

21. Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “Gaan aan, bring nog meer offers wat verbrand word saam met julle ander offers. Ja, en eet self die vleis.

22. Toe Ek julle voorouers uit Egipte gelei het, was dit nie allerhande offers wat Ek van hulle verwag het nie.

23. Wat Ek van hulle verwag het, was bloot die volgende: Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan.

24. Maar my volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie. Hulle het gemaak soos hulle wou. Hulle het hulle eie kop gevolg en verkeerd gedoen. Op die ou einde het dit net al hoe slegter met hulle gegaan.

25. Vandat jou voorouers uit Egipte getrek het tot vandag toe, het Ek gereeld boodskappers wat in my diens is, na hulle gestuur.

26. Maar my volk wou nie na My luister nie. Hulle het hulle glad nie aan My gesteur nie. Hulle het net meer teen My in opstand gekom. Hulle was nog erger as hulle voorouers.

27. Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie. Selfs al waarsku jy hulle baie ernstig, sal hulle jou ignoreer.

28. Sê vir hulle: Julle is die volk wat nie na die Here julle God wou luister nie. Julle laat julle ook nie leer nie. Hulle ken nie meer iets soos waarheid nie. Dit is nie iets wat oor hulle lippe kom nie.

29. Mense van Jerusalem, sny julle hare af en gooi dit weg. Sing ’n treurlied op die kaal heuwels. Die Here het julle verwerp. Hy sal julle in die steek laat, want julle het Hom baie kwaad gemaak.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 7