Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 49:4-14 Die Boodskap (DB)

4. Julle spog tog so graag met julle vrugbare valleie. Julle is eintlik maar ’n ontroue klomp mense. Julle vertrou op julle rykdom en dink dat niemand julle kan aanval nie. Julle maak ’n groot fout!

5. Ek, die Here, is sterker as alles en almal. Ek sê vir julle: van alle kante af sal vreeslike goed met julle gebeur. Julle sal uit julle land gejaag word. Elkeen van julle sal in sy eie rigting wegvlug. En daar sal niemand wees wat die mense wat vlug weer bymekaar sal bring nie.

6. Maar eendag, as alles verby is, sal Ek weer Ammon se omstandighede verander. Ek, die Here, sê dit sal so gebeur!”

7. Edom is in die kollig:Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Is daar nie meer verstandige mense in Teman nie? Wat het geword van mense met gesonde verstand? Het hulle insig opgedroog?

8. Draai om en vlug weg! Julle wat in Dedan bly, kruip in grotte weg! Ek gaan Edom met ’n ramp tref. Die tyd het gekom om met die mense af te reken.

9. Is dit nie so dat die mense wat druiwe pluk, altyd iets in die wingerd los nie? En steel diewe wat in die nag inbreek nie net wat hulle wil hê nie?

10. Maar Ek sal Edom kaal stroop. Ek sal al die wegkruipplekke oopmaak sodat niemand meer kan wegkruip nie. Al hulle kinders, familie en bure sal uitgewis word en Edom sal ophou bestaan.

11. Maar los julle weeskinders vir My. Ek sal sorg dat hulle bly lewe. Julle weduwees kan ook op My staatmaak vir hulp.”

12. Die Here sê: “As onskuldige mense swaar moes kry, verdien julle dit mos meer om gestraf te word. Julle sal nie ongestraf bly nie!

13. Ek het gesweer, so waar as Ek leef, dat Bosra ’n plek sal word waarvoor mense sal skrik. Die stad sal ’n hoop bourommel word. Mense sal die naam as ’n vloekwoord gebruik en met die stad spot. Al die dorpies in Bosra se omgewing sal vir altyd verwoes lê.”

14. Ek het nuus van die Here af gekry dat ’n boodskapper na die nasies gestuur is om te sê: “Span saam teen Edom. Maak julle reg vir ’n geveg!”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 49