Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 49:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Hierdie deel gaan oor die mense van Ammon.Die Here sê: “Het Israel nie ’n nageslag wat die grond van Gad kan erf nie? Hoekom het die mense wat die god Milkom aanbid, dan hierdie grond vir hulle gevat? Hoekom bly hulle in hierdie stede?

2. Die tyd kom dat ’n geveg sal uitbreek teen die stad Rabba van die Ammoniete. Al wat van die stad sal oorbly, is ’n hoop bourommel. Die naburige dorpies sal ook afgebrand word. Dan sal die mense van Israel kom en die land wat van hulle afgevat is, terugvat.”

3. Die Here sê verder: “Huil gerus maar droewig, Gesbon, want die stad Ai is verwoes. Kla maar, julle wat in Rabba bly! Trek julle rouklere aan, huil en loop maar heen en weer omdat julle ontsteld is. Die vyand sal julle god Milkom wegdra uit julle land. Hulle sal ook die leiers van die Milkomgodsdiens en sy amptenare vang en saamvat.

4. Julle spog tog so graag met julle vrugbare valleie. Julle is eintlik maar ’n ontroue klomp mense. Julle vertrou op julle rykdom en dink dat niemand julle kan aanval nie. Julle maak ’n groot fout!

5. Ek, die Here, is sterker as alles en almal. Ek sê vir julle: van alle kante af sal vreeslike goed met julle gebeur. Julle sal uit julle land gejaag word. Elkeen van julle sal in sy eie rigting wegvlug. En daar sal niemand wees wat die mense wat vlug weer bymekaar sal bring nie.

6. Maar eendag, as alles verby is, sal Ek weer Ammon se omstandighede verander. Ek, die Here, sê dit sal so gebeur!”

7. Edom is in die kollig:Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Is daar nie meer verstandige mense in Teman nie? Wat het geword van mense met gesonde verstand? Het hulle insig opgedroog?

8. Draai om en vlug weg! Julle wat in Dedan bly, kruip in grotte weg! Ek gaan Edom met ’n ramp tref. Die tyd het gekom om met die mense af te reken.

9. Is dit nie so dat die mense wat druiwe pluk, altyd iets in die wingerd los nie? En steel diewe wat in die nag inbreek nie net wat hulle wil hê nie?

10. Maar Ek sal Edom kaal stroop. Ek sal al die wegkruipplekke oopmaak sodat niemand meer kan wegkruip nie. Al hulle kinders, familie en bure sal uitgewis word en Edom sal ophou bestaan.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 49