Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 44:6-12 Die Boodskap (DB)

6. Dit is daarom dat my woede oorgeborrel het en soos vuur geval het op die stede van Juda en in die strate van Jerusalem. Nou is hierdie plekke net ’n hoop verlate bourommel.”

7. En nou vra die Here wat die God van Israel is, vir julle: “Hoekom bring julle so ’n slegte ding oor julleself? Nie een van julle sal oorleef nie. Nie enige man, vrou of kind wat van Juda af kom, sal oorleef nie. Niemand sal oorbly nie.

8. Hoekom maak julle My kwaad met afgode wat julle self gemaak het? En dan brand julle ook nog wierook vir ander gode hier in Egipte waar julle kom bly het! Al wat sal gebeur, is dat julle julleself sal vernietig. Die volke van die wêreld sal julle naam gebruik om mekaar te vloek of met julle te spot.

9. Het julle al klaar die verkeerde dinge wat julle voorouers gedoen het, vergeet? Het julle van die verkeerde goed vergeet wat die konings en koninginne van Juda gedoen het? En wat van die verkeerde dinge wat julle en julle vroue in Juda en Jerusalem gedoen het?

10. Tot vandag toe het julle nie gewys julle is jammer nie. Niemand is ook bang omdat hulle verkeerd gedoen het nie. Niemand steur hulle ook aan my voorskrifte en hoe Ek dinge gedoen wil hê nie. Ek het dit alles vir julle en julle voorouers gesê om te doen, maar julle het nie.”

11. Daarom sê die Here wat die God van Israel is: “Ek het besluit om almal van julle te vernietig! Ek gaan ontslae raak van die hele Juda.

12. Ek sal die groep mense wat in Juda oorgebly het, maar aangedring het om in Egipte te bly, uitwis. Hulle sal in Egipte in geweld of van die honger doodgaan. Almal, van klein tot groot, sal op so ’n manier doodgaan. Mense sal skrik as hulle sien wat met julle gebeur het. Die volke van die wêreld sal julle naam gebruik om mekaar te vloek of met julle te spot.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 44