Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 44:14-23 Die Boodskap (DB)

14. Niemand van die mense wat oorleef het in Juda toe die res van die mense na Babel toe weggevat is, sal in Egipte oorleef nie. Hulle het gedink dat hulle net tydelik in Egipte sou kom bly en dan permanent na Juda sou teruggaan. Maar net ’n paar mense sal die rampe in Egipte oorleef en dit regkry om na Juda toe terug te gaan.”

15. ’n Groot groep van die Judeërs wat in Patros in Egipte gebly het, was bymekaar. Die groep het bestaan uit mans wat geweet dat hulle vroue wierook vir ander gode gebrand het. Verder ook nog uit ’n groep vroue wat daar rondgestaan het. Hulle almal het Jeremia geantwoord en gesê:

16. “Ons sal nie na die dinge luister wat jy sê van die Here af kom nie!

17. Ons sal alles doen wat ons beloof het ons sal. Ons sal wierook brand vir die koningin van die hemel. Ons sal ook drank uitgooi om te wys dat ons haar vereer. Dit is tog wat ons nog altyd gedoen het en ook ons voorouers voor ons. Ons konings en ons leiers het dit ook gedoen. Ons almal het dit gedoen in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem. En toe ons dit gedoen het, het ons volop kos gehad. Dit het eintlik sommer baie goed met ons gegaan. Ons het nie probleme geken nie.

18. Maar vandat ons opgehou het om vir die koningin van die hemel wierook te brand en drank uit te gooi as ’n offer aan haar, gaan dit sleg met ons. Ons het niks. Ons mense gaan dood in oorloë en van honger omdat daar nie kos is nie.”

19. Die vroue het verder ook vir Jeremia gesê: “Dit is so, ons het wierook vir die koningin van die hemel gebrand en drank ter wille van haar uitgegooi as ’n offer. Ons het selfs koekies gebak wat haar vorm het. Maar dink jy dat toe ons dit gedoen het ons mans nie deel daarvan was nie?”

20. Toe hulle klaar gepraat het, het Jeremia al die mans en die vroue geantwoord:

21. “Dink julle die Here het nie geweet wat julle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem gedoen het nie? Natuurlik het Hy geweet dat julle en julle voorouers, julle konings en leiers en al die ander mense wierook gebrand het vir die afgode.

22. Die Here kon dit nie langer uitstaan dat julle hierdie slegte dinge doen nie; daarom het Hy julle soos ’n vloekwoord gemaak. Dit is ook hoekom julle land vandag ’n hoop bourommel is. Dit is ’n verlate plek, sonder enige mense wat daarin bly.

23. Die Here bring hierdie ellendes oor julle omdat julle wierook gebrand het. Julle het nie gedoen wat die Here van julle verwag nie. Hy het vir julle sekere reëls en riglyne gegee waarvolgens julle moes lewe, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 44