Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 33:16-26 Die Boodskap (DB)

16. In dié tyd sal Juda uit die mag van hulle vyande gered word. Jerusalem sal weer ’n veilige plek vir mense wees om te bly. En die mense sal die stad noem: ‘Die Here doen reg aan ons.’”

17. Die Here sê: “Daar sal altyd iemand uit die nageslag van Dawid koning wees oor Israel.

18. Daar sal ook altyd priesters wees wat nakomelinge is van die Leviete. Hulle sal al die soorte offers bring om My mee te dien.”

19. Die Here het toe vir Jeremia gesê:

20. “Ek het ’n ooreenkoms met die dag en die nag om op vaste tye te begin. As julle dit kan regkry om hierdie ooreenkoms verbreek te kry,

21. dan, en dan alleen, sal my ooreenkoms met Dawid wat in my diens was, verbreek kan word. Net as dit gebeur, sal hy nie meer ’n opvolger uit sy familie as koning hê nie. Dieselfde geld vir die priesters uit die Leviete. Daar sal altyd iemand van hulle vir My by die tempel werk.

22. Dit is nie moontlik om die sterre te tel nie. Dit is ook onmoontlik om vas te stel hoeveel sand op die strande is. Die nageslag van Dawid wat kom, sal so baie word dat hulle soos die sterre en die seesand sal wees. ’n Mens sal hulle nie kan tel nie. Dieselfde geld ook vir die Leviete.”

23. Die Here het weer met Jeremia gepraat. Hy het gesê:

24. “Het julle gehoor wat die mense sê? Hulle sê dat die Here Juda en Israel gekies het. Maar nou verwerp Hy hulle. Omdat die Here dit gedoen het, sien ander nasies met minagting op hulle neer. Hulle dink nie Israel en Juda is werd om ’n nasie genoem te word nie.”

25. Maar die Here antwoord so: “Ek sal nie die wette van die nag en die dag of die vaste patrone van die aarde en die hemel verander nie. Net so min as wat Ek dit sal doen, net so min sal Ek my mense verwerp.

26. Ek sal ook nie die nageslag van Jakob en Dawid vergeet nie. Ek sal ook nie van plan verander dat een van Dawid se nageslag sal regeer oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie. Wat sal gebeur, is dat Ek hulle omstandighede weer normaal sal maak soos dit tevore was. Hulle sal weer in rus en vrede in hulle land bly. Ek sal mooi versigtig met hulle werk.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 33