Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:29-44 Die Boodskap (DB)

29. Die Babiloniërs wat nou buite die mure van die stad baklei, sal in die stad inkom en dit aan die brand steek. Hulle sal die huise afbrand. Die vyand sal ook die huise afbrand waar die mense bo-op die dak wierook vir Baäl gebrand het. Die mense het ook by hierdie huise ander gode vereer deur van hulle wyn uit te gooi. Hierdie verering van die gode het My baie kwaad gemaak.

30. “Van die vroegste tye af al het Israel en Juda niks anders as verkeerd gedoen nie. Hulle het My verskriklik kwaad gemaak met die goed wat hulle doen.

31. Vandat Jerusalem gebou is tot vandag toe, het die inwoners van die stad My nog altyd net kwaad gemaak. Ek wil hê dit moet voor my oë verdwyn.

32. Die mense van Israel en Juda het My kwaad gemaak met al die slegte goed wat hulle gedoen het. Almal van hulle, die konings, die amptenare, die priesters, die profete en die mense van Jerusalem maak My woedend.

33. My mense het die rug vir My gedraai. Dit het nie eens gehelp dat Ek aangehou en aangehou het om hulle te leer wat reg en wat verkeerd is nie. Hulle het hulle nie aan My gesteur nie. Hulle wou nie leer nie.

34. Hulle was so vermetel om hulle mislike afgodsbeelde in my tempel te kom sit. Dit het die tempel ’n plek gemaak wat nie aanvaarbaar was om te gebruik nie.

35. Hulle het ook in die Hinnomvallei offerplekke vir Baäl gebou. Daar het hulle hulle eie kinders op die altare verbrand om in Molek se goeie boekies te kom. Dit is nie iets wat Ek vir hulle gesê het om te doen nie. Dit het nie eens in my gedagtes opgekom om hulle so ’n afskuwelike ding te laat doen nie. Hulle het Juda so ’n slegte ding laat doen.”

36. Die Here, die God van Israel sê: “Ek wil nou nog iets oor hierdie stad sê. Julle sê nou wel dat hierdie stad onder die beheer van die koning van Babel sal kom as gevolg van die gevegte, die gebrek aan kos en die siektes.

37. Maar hoor gerus hier, Ek sal my mense weer bymekaarmaak wat Ek weggejaag het omdat Ek kwaad was. Dan sal Ek hulle terugbring uit al die lande waar Ek hulle laat beland het. Hier sal Ek hulle veilig in Jerusalem laat bly.

38. Dan sal hulle weer my volk wees en Ek sal hulle God wees.

39. Ek sal maak dat hulle almal sal saamstem om vir altyd net vir My te dien. Dit sal vir hulle en hulle kinders die beste ding wees om te doen.

40. Ek sal met hulle ’n ooreenkoms maak wat nooit sal ophou nie. Ek sal hulle nooit in die steek laat nie. Ek sal ook nie ophou om goeie dinge vir hulle te doen nie. Verder sal Ek ’n begeerte by hulle wakker maak om My te respekteer. Dan sal hulle nie weer van My af wegdwaal nie.

41. Dit sal vir My baie lekker wees om goeie dinge vir hulle te doen. Ek sal sorg dat hierdie land weer hulle vaste blyplek sal wees. Dit is my grootste begeerte om te sien dat dit gebeur.

42. “Ek het al hierdie slegte dinge met hulle laat gebeur. Maar soos Ek dit veroorsaak het, sal Ek nou weer goeie dinge vir hulle doen. Ek het belowe dat Ek dit sal doen.” Dit is wat die Here sê Hy gaan doen.

43. Julle land is nou verlate omdat die Babiloniërs dit verwoes het. Dit is ’n land waar al die mense en diere verdwyn het. Maar die Here sê: “Grond sal weer gekoop en verkoop word.

44. Die grond sal vir geld verkoop word. Koopkontrakte sal opgestel, geteken en voor getuies verseël word. Dit sal gebeur in die grondgebied van Benjamin en ook hier in Jerusalem. Verder ook in die stede in Juda, in die heuwellande, in die stede teen die westelike hange en die stede in die Negev in die suide. Ek sal sorg dat omstandighede verander. Dit sal weer met hulle goed gaan.” Ek, die Here, sê dit!

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32