Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 31:10-25 Die Boodskap (DB)

10. Die Here het iets vir die nasies te sê wat Hy wil hê hulle moet hoor. Selfs lande wat baie ver is en by die see is, moet dit hoor: die Here het sy volk uitmekaar laat spat. Maar Hy sal hulle weer bymekaarmaak. Hy sal hulle oppas soos ’n herder sy skape oppas.

11. Soos ’n mens ’n losprys moet betaal om iemand wat ontvoer is los te kry, so het die Here met Israel gemaak. Israel se vyande is baie sterk, maar die Here het hulle losgekry uit hulle mag.

12. Hulle sal terugkom en op die hoogtes van Jerusalem sal hulle vrolike liedere sing. Hulle sal bly wees omdat die Here so goed vir hulle is. Hy het vir hulle graan, wyn en olie gegee. Verder het Hy ook vir hulle skape en beeste gegee. Dit sal goed met hulle gaan. Hulle lewe sal wees soos ’n tuin wat genoeg water kry. Hulle sal nie meer rede hê om hartseer te wees nie.

13. Die meisies sal dans omdat hulle bly is. Die mans, of hulle nou oud of jonk is, sal deelneem aan hierdie vrolikheid. Die Here sê Hy sal hulle gehuil verander in blydskap. Hy sal hulle troos. Hy sal hulle depressiewe gevoel wegvat en in die plek daarvan vreugde gee.

14. “Ek sal vir die priesters meer as genoeg gee om te offer. My volk sal tevrede voel oor al die goeie dinge wat Ek vir hulle sal gee.” Dit is wat die Here sê Hy sal doen.

15. Die Here sê verder: “Uit Rama hoor ’n mens die hartseer gehuil oor iemand wat dood is. Dit is Ragel wat oor haar kinders huil. Hulle is dood. Sy wil nie toelaat dat iemand haar troos nie.”

16. Maar die Here sê: “Hou op met huil en droog jou trane af. Jy sal beloon word vir al jou moeite wat jy vir jou kinders gedoen het. Jou kinders sal terugkom uit die land van die vyand.

17. Daar is hoop vir die toekoms,” sê die Here. “Jou kinders sal na hulle eie land toe terugkom.

18. Ek het gehoor dat Israel kla en sê dat Ek hulle swaar gestraf het. Hulle het gesê: ‘Ons was soos wilde kalwers wat nog geleer moes word. Ons moes leer om gehoorsaam te wees. Here, help ons om weer reg teenoor U te lewe, want U is die Here ons God.

19. Ons het die rug vir Hom gedraai, maar ons was agterna spyt daaroor. Ons kon onsself skop dat ons so onnosel was. Nou is ons skaam en verleë oor wat ons gedoen het toe ons jonk was.’”

20. Die Here het gevra: “Is Israel nie nog steeds my seun vir wie Ek baie lief is nie? Is hy nie my lieflingskind nie? Selfs al moes Ek hom beskuldig dat hy verkeerde dinge doen, het Ek steeds ’n sagte plekkie vir hom gehad. Ek voel jammer vir hom; daarom sal Ek sag met hom werk.” Dit is wat die Here sê.

21. “Plant vir julle rigtingwysers langs die pad. Maak merke op die pad. Kyk baie mooi waarlangs julle destyds gegaan het. Kom terug, Israel! Kom terug na julle stede.

22. Hoe lank sal julle nog hink op twee gedagtes? Julle is mense wat aan My ontrou is. Ek gaan iets nuuts en anders laat gebeur: so vreemd as wat dit is vir ’n vrou om ’n man te beskerm, so vreemd sal dit wees wat met Israel gaan gebeur. Ek gaan Israel as ’n beskermer laat optree.”

23. Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “As Ek Israel se omstandighede verander in Juda en in al hulle stede, sal hulle weer sê: ‘Mag die Here jou voorspoedig maak, Jerusalem!’ Jerusalem is die Here se spesiale woonplek.

24. Al die mense in die stede en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly.

25. Want Ek sal rus gee aan al die mense wat moeg is. En as daar mense is wat honger is, sal Ek vir hulle kos gee.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 31