Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 3:9-17 Die Boodskap (DB)

9. Israel het niks ernstig opgeneem nie. Dit het haar nie gepla dat haar ontrouheid die land ’n slegte naam gegee het nie. Sy het doodgewoon haar eie kop gevolg en voor vreemde gode neergebuig. Die ergste is dat dit gode was wat met die hand uit hout gesny en uit klip gekap is.

10. Maar na alles wat met Israel gebeur het, het die ontroue suster Juda net halfhartig na My toe teruggekom. Sy was vals en het net gemaak of sy jammer is,” sê die Here.

11. Toe het die Here vir my gesê: “Israel was baie dislojaal aan My, maar wat Juda gedoen het, is baie erger.

12. Maar gaan uit, kyk in die rigting van Israel en roep uit: Israel, sê die Here, jy was dislojaal, maar kom terug na My toe. Ek is nie meer kwaad vir jou nie. Ek hou by my beloftes aan jou.

13. Al wat Ek van jou verwag, is om te erken dat jy verkeerd gedoen het. Jy het teen My, wat die Here jou God is, gerebelleer. Jy het jou onder elke liewe koelteboom voor die gode neergebuig. Jy sal moet erken dat jy nie na My wou luister nie. Dit is wat Ek, die Here, wil hê julle moet hoor.

14. Julle het koers verloor,” sê die Here, “maar kom terug na My toe. Julle behoort aan My. Wat Ek sal doen, is om hier een mens uit ’n stad en daar twee uit ’n familie te vat en julle na Jerusalem toe terug te bring.

15. Ek sal vir julle nuwe leiers gee van wie Ek hou. Omdat hulle verstandig sal wees, sal hulle julle goed kan lei.”

16. Die Here sê wanneer daar weer baie mense in die land is, sal hulle nie meer uitroep: “O, daar is die ark wat wys dat daar ’n ooreenkoms tussen die Here en ons is” nie. Om die waarheid te sê, niemand sal eens daaraan dink, daaroor praat of dit eens mis nie. Wat nog ’n nuwe een maak!

17. Dit sal die tyd wees wanneer mense na Jerusalem sal kyk en sê: “Dit is die stoel waarop die Here as koning sit.” Al die nasies sal hierheen kom om aan die Here eer te bring. Hulle sal nie langer soos domastrante mense hulle eie kop volg nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 3