Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 3:2-13 Die Boodskap (DB)

2. Kyk ’n bietjie om jou na die heuwels. Is daar enige plek in die hele land waar jy nie vreemde gode vereer het nie? Jy sit langs die pad soos iemand van losse sedes wat iemand soek om by te slaap. Jy is soos ’n rower in die woestyn wat wag om iemand te beroof. Jy het die land ’n slegte naam gegee met jou dislojale optrede. Jou doen en late is boos!

3. Dit is hoekom die reën nie in die reëntyd gekom het nie. Jou houding is net so uitdagend soos ’n sekswerker s’n. Jy skaam jou nie eens oor wat jy gedoen het nie.

4. En nou skielik sê jy vir My: ‘U is my Vader, U is my vriend vandat ek sommer nog baie klein was.

5. U sal sekerlik nie vir altyd kwaad wees en kwaad bly nie?’ Dit is die soort praatjies wat julle maak, maar julle hou net aan om alles te doen wat verkeerd is.”

6. In die tyd toe Josia koning in Juda was, het die Here vir my gesê: “Het jy gesien wat die noordelike koninkryk, Israel, gedoen het? Soos ’n persoon wat ontrou is aan sy huweliksmaat het Israel ander gode begin dien. Op elke hoogte en onder elke groen boom het hulle eer aan hierdie gode gebring.

7. Ek het gedink dat as Israel klaar rondgeloop het, sy weer aan My lojaal sou wees. Dit het nie gebeur nie. Israel se ontroue suster Juda het alles gesien wat gebeur het.

8. Sy het gesien dat Ek vir Israel, wat so ontrou was, ’n skeibrief gegee en haar weggestuur het. Maar dit het geen indruk op Juda gemaak nie. Sy het ook in haar ontrou ander gode begin dien.

9. Israel het niks ernstig opgeneem nie. Dit het haar nie gepla dat haar ontrouheid die land ’n slegte naam gegee het nie. Sy het doodgewoon haar eie kop gevolg en voor vreemde gode neergebuig. Die ergste is dat dit gode was wat met die hand uit hout gesny en uit klip gekap is.

10. Maar na alles wat met Israel gebeur het, het die ontroue suster Juda net halfhartig na My toe teruggekom. Sy was vals en het net gemaak of sy jammer is,” sê die Here.

11. Toe het die Here vir my gesê: “Israel was baie dislojaal aan My, maar wat Juda gedoen het, is baie erger.

12. Maar gaan uit, kyk in die rigting van Israel en roep uit: Israel, sê die Here, jy was dislojaal, maar kom terug na My toe. Ek is nie meer kwaad vir jou nie. Ek hou by my beloftes aan jou.

13. Al wat Ek van jou verwag, is om te erken dat jy verkeerd gedoen het. Jy het teen My, wat die Here jou God is, gerebelleer. Jy het jou onder elke liewe koelteboom voor die gode neergebuig. Jy sal moet erken dat jy nie na My wou luister nie. Dit is wat Ek, die Here, wil hê julle moet hoor.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 3