Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 25:27-38 Die Boodskap (DB)

27. Toe het die Here vir my gesê: “Ek is die Here wat sterker as alles en almal is, die God van Israel. Sê vir hulle: ‘Drink totdat julle dronk is en opgooi. Drink totdat julle val en nie weer kan opstaan nie. Dit is wat met julle sal gebeur in die oorlog waarin Ek julle gaan laat beland.’

28. En as hulle vasskop en nie uit die beker wil drink nie, sê vir hulle: ‘Die Here sê, julle het nie ’n keuse nie, drink!’

29. Ek het reeds begin om Jerusalem te straf. Die stad word my stad genoem. As Ek my stad nie oorsien nie, hoe sal julle ooit kan dink om straf vry te spring? Julle het geen kans om dit vry te spring nie. Ek laat al die inwoners van die wêreld oorlog maak. Ek is die Here wat sterker as alles en almal is en Ek sê dit!

30. “Jeremia, jy moet vir hulle almal hierdie boodskap gee, al wil hulle dit nie graag hoor nie. Sê vir hulle: Soos die donderweer dreigend dreun, so sal die Here ook dreigend optree. Uit sy blyplek wat hoog in die hemel en baie spesiaal is, kan ’n mens sy gedreun hoor. Sy magtige gedreun is vir sy eie mense bedoel. Hy skree ook hard vir al die mense op die aarde. Sy stem klink soos die geskree van mense wat met druiwe by die wynpers werk.

31. Sy geskree sal oor die hele aarde weergalm. Die Here gaan ’n saak maak teen al die nasies. Hy sal soos ’n regter al die mense van die wêreld straf. Mense wat slegte dinge gedoen het, sal Hy in die oorlog laat doodgaan. Dít is wat die Here sê sal gebeur.”

32. Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Let ’n bietjie op, die een volk na die ander gaan deur ’n ramp getref word! ’n Groot storm bou op in die verste uithoeke van die aarde.”

33. In dié tyd sal die mense wat deur die Here afgemaai is, oral oor die aarde dood lê. Niemand sal oor hierdie mense huil nie. Niemand sal die lyke bymekaarmaak en begrawe nie. Hulle sal soos mis oor die grond versprei lê.

34. Leiers, julle is soos herders vir die mense. Julle moet huil en kla en in die stof rondrol van hartseer. Die tyd het gekom dat julle soos skape geslag gaan word. Julle sal soos ’n kleipot val en in skerwe breek.

35. Leiers, julle kan nêrens heen vlug nie. Daar is geen manier hoe julle sal kan vlug nie.

36. Hoor hoe huil en kla die leiers van die mense. Die Here het hulle vreedsame land verwoes.

37. Die Here was so kwaad dat hy die rus en vrede van die nasies weggevat het.

38. Die Here is soos ’n leeu wat uit sy lêplek gekom het op soek na ’n prooi. Hy sal teen die vyand optrek en hulle land verwoes. Dit sal gebeur omdat mense uit wraak doodgemaak sal word en omdat die Here vreeslik kwaad is.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 25