Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 23:7-18 Die Boodskap (DB)

7. Die Here sê verder: “Mense sweer gewoonlik ’n eed en sê: ‘So waar as wat die Here lewe wat die mense van Israel uit Egipte laat kom het.’ Maar daar sal ’n tyd kom dat dit nie meer gebeur nie.

8. In plaas daarvan sal hulle sê: ‘So waar as die Here lewe wat die mense van Israel na hulle eie land toe teruggebring het uit die land in die noorde en al die lande waarheen hulle weggevat was.’ Dan sal hulle in hulle eie land voortgaan met hulle lewe.”

9. My hart is stukkend oor die vals profete. Die Here se woorde is heeltemal anders as gewone mense s’n. Wat Hy oor hierdie boodskappers te sê het, laat my bewe so groot as wat ek is. Ek slinger rond soos ’n mens wat dronk is van te veel wyn.

10. Die land is vol mense wat dislojaal teenoor die Here is. Dit gaan nie goed in die land nie. Dit gaan eintlik treurig, want die weiding in die veld het verdroog. Die profete doen slegte dinge en misbruik hulle mag.

11. Die Here sê: “Die priesters is net soos hierdie boodskappers. Hulle steur hulle net mooi niks aan My nie. Ek het selfs gesien dat hulle verkeerde goed in my tempel doen.

12. Daarom sal dit met hulle gaan soos met iemand wat in die donker op gladde paaie moet loop. Hulle sal gedwing word om op donker roetes te stap. Omdat dit donker is, sal hulle val. Die tyd het aangebreek dat hulle gestraf gaan word. Ek sal sorg dat slegte dinge met hulle gebeur,” sê die Here.

13. “Ek het gesien hoe die profete van Samaria ’n totaal onaanvaarbare ding doen. Hulle sê die boodskappe wat hulle bring, kom van Baäl af. Deur dit te doen lei hulle die mense van Israel op ’n dwaalspoor.

14. Maar nou sien Ek dat die profete van Jerusalem nog erger dinge doen. Hulle hoereer, lieg en bedrieg en boonop moedig hulle mense wat verkeerd doen aan om daarmee vol te hou. ’n Mens sou eerder verwag het dat hulle mense sou aanmoedig om op te hou om verkeerd te doen. Hulle is niks beter as die mense van Sodom en Gomorra nie!”

15. Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê die volgende oor hierdie profete: “Ek sal vir hulle bitter goed gee om te eet en gif om te drink. Dit is die profete van Jerusalem se skuld dat al die mense van die land leef asof Ek nie bestaan nie.

16. Julle moenie na hierdie profete luister nie. Die boodskappe wat hulle vir julle bring, laat julle dinge hoop wat nie gaan gebeur nie. Die goed wat hulle kastig sien, is droombeelde wat hulle self uitgedink het. Die goed wat hulle praat, kom nie van My af nie.

17. Hulle hou aan om die mense wat minder as niks dink van wat Ek sê, gerus te stel. Hulle sê: ‘Die Here sê julle sal rus en vrede hê!’ En vir die mense wat hardkoppig is en net doen wat hulle wil, sê hulle: ‘Niks slegs sal met julle gebeur nie!’”

18. Wie van hierdie profete was al so deel van die binnekring van die Here dat hulle gesien het wat Hy doen of gehoor het wat Hy sê? Was daar enigeen van hulle wat regtig wou luister na wat Hy sê?

Lees volledige hoofstuk Jeremia 23