Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 2:27-37 Die Boodskap (DB)

27. Hulle sê vir ’n beeld wat uit hout gesny is: ‘Jy is my pa.’ En vir ’n beeld wat uit klip gekap is, sê hulle: ‘Ons is jou kinders.’ Hulle steur hulle glad nie aan My nie” sê die Here, “maar net sodra hulle in die moeilikheid is, roep hulle My om hulle te help.

28. Hoekom roep julle nie hierdie gode wat julle gemaak het om julle te kom help nie? As hulle dan so goed is, laat hulle julle uit die moeilikheid help as hulle kan! Julle het omtrent net soveel gode as wat daar stede en dorpe is.

29. Waarom maak julle of dit Ek is wat verkeerd gedoen het? Julle is die mense wat teen My in opstand gekom het,” sê die Here.

30. “Dit het nie eens gehelp dat Ek julle kinders gestraf het nie. Dit lyk nie juis of hulle iets uit die straf geleer het nie. Ek het my profete na julle toe gestuur, maar julle het hulle doodgemaak net soos leeus ’n prooi verskeur.

31. Israel, luister na wat die Here te sê het! Hy vra: Is Ek vir Israel so sleg dat dit vir hulle voel soos om in ’n woestyn te wees of in ’n pikdonker land? Hoekom sê my volk dan: ‘Uiteindelik is ons vry, ons wil nooit weer iets met Hom te doen hê nie’?

32. Sê My, vergeet ’n meisie haar juwele? Sal ’n vrou vergeet hoe haar trourok gelyk het? Hoe is dit dan moontlik dat my mense My keer op keer vergeet?

33. Julle is soos mense wat al die fyner kunsies ken om ander mans of vroue in die hande te kry. Julle is so goed met die verkeerde manier van doen dat hierdie mense by julle kan kom leer.

34. Julle klere is gevlek met die bloed van onskuldige arm mense wat julle vermoor het. Julle kon nie eens sê dat julle hulle doodgemaak het omdat hulle by julle huise ingebreek het nie. Tog, ten spyte van alles

35. sê julle: ‘Ons is onskuldig. Dit is regtig so, die Here is nie kwaad vir ons nie!’ Julle kan vir seker weet, Ek gaan julle swaar straf omdat julle doodgewoon maak of julle niks verkeerd gedoen het nie.

36. Julle val lekker rond en dink vandag so en môre anders. Maar dit kan julle weet, julle vriende in Egipte sal julle in die steek laat net soos Assirië destyds gedoen het.

37. Julle sal teleurgesteld van Egipte af terugkom, want Ek sal die mense op wie julle vertrou, afskryf. Dit sal nie met julle goed gaan nie, ook al help hulle julle.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 2