Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 17:13-27 Die Boodskap (DB)

13. Here, Israel se hoop vir die toekoms is van U afhanklik. As enige van Israel se mense dislojaal aan U sou wees, sal hulle verneder word. As hulle die rug vir U sou draai, is die dood hulle voorland. U, Here, is soos ’n fontein waaruit mense drink sodat hulle kan lewe. Nogtans het die mense van Israel van U af weggegaan.

14. Ek het gebid: “Here, U is die enigste een wat my gesond kan maak. U alleen kan my red sodat ek veilig kan wees. Ek wil net vir U alleen die eer gee deur mooi dinge van U te sê.

15. Die mense vra my: ‘Wat het geword van die danige boodskap wat jy by die Here gekry het? Laat dit nou gebeur!’

16. Here, ek het nie by U aangehou om hulle te straf nie. Ek het ook nie gewens dat hulle slegte goed moet oorkom nie. Dit is nie ’n boodskap wat ek self uitgedink het nie, dit is u boodskap wat ek vir hulle gegee het.

17. Moenie nou veroorsaak dat ek vir U bang moet wees nie. Ek vertrou heeltemal op U dat U my sal help as ek in die nood is.

18. Here, laat mense wat my vervolg die slegste daarvan afkom. Laat dit asseblief met my goed gaan. Laat hulle die mense wees wat bang is, nie ek nie. Laat slegte goed hulle tref, sommer ’n dubbele dosis daarvan!”

19. Die Here het vir my gesê: “Gaan staan by al die hekke waar mense in- en uitgaan by Jerusalem. Ja, ook by die hek wat ‘die mense se hek’ genoem word. Dit is die hek wat die konings van Juda gebruik as hulle by Jerusalem wil in- en uitgaan.

20. Sê daar vir die mense wat die hekke gebruik, konings, die mense van Juda en ook die mense wat in Jerusalem bly: ‘Hoor wat die boodskap van die Here vir julle is.

21. Hy sê: Luister, wat Ek te sê het, is lewensbelangrik! Ek het opdrag gegee dat julle die sewende dag van die week as ’n rusdag moet hou. Daarom moet julle ophou om op hierdie dag die goed waarmee julle handel dryf, by die hekke rond te dra.

22. Moenie op hierdie rusdag goed uit julle huise dra nie. Julle moet ook nie enige werk doen nie. Maak dit ’n dag wat julle ter wille van My uitsonder soos Ek julle voorouers beveel het om te doen.’

23. Maar hulle voorouers wou nie luister nie. Hulle was hardkoppig en wou niks doen wat Ek vir hulle voorgeskryf het nie.”

24. Maar die Here sê: “Julle weet wat Ek wil hê. Julle moet My gehoorsaam en nie aanhou met julle handeldrywery op die rusdag nie. Julle moet ook nie op dié dag werk nie, maar dit spesiaal eenkant hou ter wille van My.

25. As julle dit doen, sal daar ’n goeie toekoms vir julle wees. Daar sal altyd ’n koning in Jerusalem regeer wat deel is van die familielyn van Dawid. Die konings en prinse sal by die hekke van Jerusalem ingaan. Hulle sal op koetse en perde ry en tussen die mense van Juda wees. Daar sal ook altyd mense wees wat in Jerusalem sal bly, ook in die toekoms.

26. Baie mense sal uit die stede van Juda na Jerusalem toe kom. Ook van die mense in die omgewing van Jerusalem. Dit sluit nou mense in van die gebied van Benjamin, van die heuwels in die weste van die land, van die berge en die woestyngebied in die suide. Hulle sal met allerhande offers en wierook wat hulle aan die Here wil toewy, na die huis van die Here toe kom. Op so ’n manier wil hulle vir Hom dankie sê.

27. Maar as julle weier om die sewende dag as ’n rusdag ter wille van My te hou en aanhou om op dié dag julle handelsware rond te dra, sal Ek die hekke van Jerusalem aan die brand steek. Die vuur sal van die hekke af na die paleise versprei. Daar sal niemand wees wat dit sal regkry om die vuur te blus nie.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 17