Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 8:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Die Here sê: “Stuur ’n noodsein uit! Die vyand duik soos valke op Israel af. Israel wou nie langer aan My behoort nie. Hulle wou nie langer doen wat Ek van hulle vra nie. Hulle het my ooreenkoms met hulle verbreek.

2. Hulle roep nou verniet: ‘My God! Israel is getrou aan U!’

3. Dit is nou te laat. Hulle het klaar al hulle kanse weggegooi. Die vyand is klaar besig om hulle te agtervolg.

4. Hulle het konings aangestel wat Ek nie goedgekeur het nie. Hulle het nie aan My gedink toe hulle hulle leiers gekies het nie. Hulle het beelde van afgode gemaak met hulle silwer en hulle goud. Hierdie beelde veroorsaak dat hulle in die moeilikheid beland.

5. Ek wil niks te doen hê met die kalf wat jy uit goud gemaak het nie, Samaria. Ek is woedend oor julle dit gemaak het. Hoeveel tyd moet verbygaan voordat julle sal leer om sonder afgode klaar te kom?

6. Die kalf wat hulle gemaak het, is ’n ding wat Israel self uitgedink het. ’n Goudsmid het dit vir julle uit goud gemaak. Dit kan mos nie ’n god wees nie! Samaria se kalf sal nog in stukkies gebreek word.

7. Dit gaan julle niks in die sak bring nie. Dit is soos wanneer jy wind saai en al wat jy kry, is ’n stormwind. As koringare nie ryp word nie, kan dit nie gemaal word om meel te maak nie. Selfs al word die koring miskien ryp, kan niks verseker dat dinge nie verkeerd sal loop nie. Ander mense kan jou koring kom steel, dit afoes en dit eet.”

8. “Israel het tussen die nasies weggeraak. Hy het tussen die volke geword soos ’n ding wat niemand meer wil hê nie.

9. Efraim is soos ’n wildedonkie wat alleen in die veld ronddwaal. Hy soek na maats. Hy gaan na Assirië toe om iemand te kry wat saam met hom kan bly.

Lees volledige hoofstuk Hosea 8