Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 10:3-10 Die Boodskap (DB)

3. Dan sal hulle sê: ‘Ons het nie meer ’n koning nie. Ons het mos nie respek vir die Here gehad nie. Maar wat maak dit in elk geval saak? ’n Koning sou nou niks vir ons kon doen nie.’

4. Hulle praat baie maklik. Hulle maak beloftes wat niks beteken nie. Hulle sluit ooreenkomste wat hulle niks help nie. Die uitsprake wat hulle regters in die hof maak, het geen betekenis nie. Dit is soos gifplante in die veld waarmee jy niks kan doen nie.

5. “Die mense wat in Samaria bly, gaan sleg voel oor die kalf by Bet-Awen wat van goud gemaak is. Die volk en die mans wat vir hom offers gebring het, sal oor hom huil. Hulle sal hardop huil omdat hy nie meer belangrik is nie.

6. As hulle Assirië toe gaan, sal hulle die kalf saamvat om dit vir die koning van Assirië present te gee. Efraim sal in die skande kom. Israel gaan skaam wees dat hy ooit op die beeld vertrou het.

7. Samaria sal afgebreek word. Sy koning sal weggevat word. Hy sal soos ’n stuk hout wees wat op die water wegdryf.

8. Die koppies by Awen waarop Israel sy offers vir die afgode gebring het, sal kaal en verlate daar lê. Daar sal dorings en bossies groei bo-oor die altare wat hulle gebou het. Hulle sal die berge soebat: ‘Val tog asseblief op ons!’ Hulle sal vir die heuwels vra: ‘Maak ons heeltemal toe. Steek ons weg.’”

9. “Van Gibea se tyd af het Israel maar net aangehou om sonde teen die Here te doen. Hulle het net nooit opgehou nie. Is daar dan ’n beter plek as Gibea waar die oorlog teen hierdie oortreders kan begin?

10. Ek het besluit dat Ek hulle sommer self sal aanval. Die nasies sal saamstaan om teen hulle oorlog te maak. Hulle sal hulle kom straf vir alles wat hulle verkeerd gedoen het.

Lees volledige hoofstuk Hosea 10