Ou Testament

Nuwe Testament

Haggai 2:11-23 Die Boodskap (DB)

11. Hy moes na die priesters toe gaan met ’n probleemvraag en hulle moes die antwoord gee.

12. Die probleem was die volgende: “Sê nou maar iemand dra ’n stuk vleis wat aan die Here geoffer is in sy jas en hy raak per ongeluk met sy jas aan ander kos, soos brood, gekookte kos, wyn of olie, of enige ander soort kos. Sal dit dan beteken dat hierdie ander kos nou ook aan die Here toegewy is soos dit die geval met die vleis is?”Die priesters het nie getwyfel nie en het geantwoord: “Nee.”

13. Toe vra Haggai verder: “As iemand besmet is omdat hy aan ’n lyk gevat het en hy raak nou aan al hierdie kos wat genoem is, is die kos dan nou ook vuil?”Die priesters se antwoord op die vraag was: “Ja.”

14. Toe het Haggai begin verduidelik wat die Here wou hê sy volk moet verstaan. Hy het gesê: “Die mense is vuil en besmet. My volk is vuil en besmet. Alles wat hulle doen en waaraan hulle raak, is besmet.”

15. “Van vandag af moet julle bly onthou hoe dit in die verlede gegaan het. Voordat julle begin bou het aan die huis van die Here, het niks volgens plan verloop nie.

16. Van die verwagte koringoes is net die helfte ingesamel. Dit het ook nie beter gegaan met die wynoes nie. Minder as die helfte van die verwagte hoeveelheid wyn is gekry.

17. Maar al was dit ook so dat siektes en hael julle oeste geslaan het, het julle julle nogtans nie aan die Here gesteur nie.

18. “‘Vandag, die agtiende Desember, is die dag waarop die fondasie van die tempel gelê is. Dit is ’n keerpunt. Van hier af aan gaan dinge vir julle verander, daarop kan julle reken.

19. Dit is so, daar is nie meer saad in julle skure oor nie. Daar is ook nie vrugte aan julle wingerde, vyebome, granaatbome en olyfbome nie. Maar Ek beloof julle, van nou af sal Ek sorg dat dit met julle goed gaan,’ sê die Here.”

20. Op die agtiende Desember het die Here nog ’n boodskap vir Haggai gegee.

21. Hy moes vir Serubbabel sê dat die Here die hemel en die aarde deur ’n aardbewing gaan skud.

22. Verder gaan Hy ook koninkryke laat ondergaan en hulle mag van hulle af wegneem. Niks sal van volke se wapentuig en soldate oorbly nie en hulle perderuiters sal mekaar afmaai.

23. Die Here sê wanneer al hierdie dinge gaan gebeur, gaan Hy Serubbabel gebruik. Hy het hom uitgekies om ’n leier te wees en daarom gee Hy aan hom gesag soos wat ’n koning het, want die Here wie se mag sonder perke is, het gesê dit is wat Hy gaan doen.

Lees volledige hoofstuk Haggai 2