hoofstukke

  1. 1
  2. 2

Ou Testament

Nuwe Testament

Haggai 2 Die Boodskap (DB)

Die nuwe tempel sal mooier as die ou een wees

1. Op 17 Oktober van dieselfde jaar het die Here weer vir Haggai ’n boodskap vir die volk gegee.

2. Hy het gesê: “Vra tog vir Serubbabel, Jesua en die mense wat weer in Juda kom bly het, die volgende vraag:

3. Hoeveel is daar van julle wat die eerste tempel gesien het toe dit nog ’n pragtige gebou was? Hoe lyk die gebou nou vir julle? Totaal en al na niks!”

4. Maar nou sê die Here vir Serubbabel dat hy en Jesua en die hele volk moed moet skep en aan die tempel moet begin werk. Die Here wat alle mag tot sy beskikking het, beloof dat hulle op sy hulp kan staatmaak.

5. Hy sê: “Toe julle uit Egipte gevlug het, het Ek belowe dat my Gees altyd saam met julle sal wees. Daarom moet julle nie nou bang wees nie!”

6. Die Here sê: “As die hemel, die aarde, die see en die droë grond weer op ’n keer skud en bewe, sal julle weet dat Ek by julle is. Dit sal julle daaraan herinner.

7. Ek sal al die nasies se regerings laat ondergaan. So sal hulle kosbare skatte in die tempel beland. Ek sal hierdie huis van My ’n plek maak wat mense sal bewonder. Hulle sal aanvoel dat Ek daar is in my grootheid.

8. Maar daar is nog iets wat julle moet weet: dit is dat al die silwer en die goud op aarde in elk geval Myne is.

9. Mense sal in die toekoms hierdie tempel wat nuut gebou is, nog meer bewonder as die oorspronklike een. In hierdie land waar my huis staan, sal my volk vrede en voorspoed geniet. Ek sal daarvoor sorg!”

Onreinheid steek aan

10. Op 18 Desember 520 v.C., weer in die tweede jaar wat Darius koning was, het die Here nog ’n opdrag vir Haggai gegee.

11. Hy moes na die priesters toe gaan met ’n probleemvraag en hulle moes die antwoord gee.

12. Die probleem was die volgende: “Sê nou maar iemand dra ’n stuk vleis wat aan die Here geoffer is in sy jas en hy raak per ongeluk met sy jas aan ander kos, soos brood, gekookte kos, wyn of olie, of enige ander soort kos. Sal dit dan beteken dat hierdie ander kos nou ook aan die Here toegewy is soos dit die geval met die vleis is?”Die priesters het nie getwyfel nie en het geantwoord: “Nee.”

13. Toe vra Haggai verder: “As iemand besmet is omdat hy aan ’n lyk gevat het en hy raak nou aan al hierdie kos wat genoem is, is die kos dan nou ook vuil?”Die priesters se antwoord op die vraag was: “Ja.”

14. Toe het Haggai begin verduidelik wat die Here wou hê sy volk moet verstaan. Hy het gesê: “Die mense is vuil en besmet. My volk is vuil en besmet. Alles wat hulle doen en waaraan hulle raak, is besmet.”

’n Belofte dat dit goed sal gaan

15. “Van vandag af moet julle bly onthou hoe dit in die verlede gegaan het. Voordat julle begin bou het aan die huis van die Here, het niks volgens plan verloop nie.

16. Van die verwagte koringoes is net die helfte ingesamel. Dit het ook nie beter gegaan met die wynoes nie. Minder as die helfte van die verwagte hoeveelheid wyn is gekry.

17. Maar al was dit ook so dat siektes en hael julle oeste geslaan het, het julle julle nogtans nie aan die Here gesteur nie.

18. “‘Vandag, die agtiende Desember, is die dag waarop die fondasie van die tempel gelê is. Dit is ’n keerpunt. Van hier af aan gaan dinge vir julle verander, daarop kan julle reken.

19. Dit is so, daar is nie meer saad in julle skure oor nie. Daar is ook nie vrugte aan julle wingerde, vyebome, granaatbome en olyfbome nie. Maar Ek beloof julle, van nou af sal Ek sorg dat dit met julle goed gaan,’ sê die Here.”

20. Op die agtiende Desember het die Here nog ’n boodskap vir Haggai gegee.

21. Hy moes vir Serubbabel sê dat die Here die hemel en die aarde deur ’n aardbewing gaan skud.

22. Verder gaan Hy ook koninkryke laat ondergaan en hulle mag van hulle af wegneem. Niks sal van volke se wapentuig en soldate oorbly nie en hulle perderuiters sal mekaar afmaai.

23. Die Here sê wanneer al hierdie dinge gaan gebeur, gaan Hy Serubbabel gebruik. Hy het hom uitgekies om ’n leier te wees en daarom gee Hy aan hom gesag soos wat ’n koning het, want die Here wie se mag sonder perke is, het gesê dit is wat Hy gaan doen.