Ou Testament

Nuwe Testament

Habakuk 3:15-19 Die Boodskap (DB)

15. Maar Hy sal sy volk verlos. Die Here tref die see met sy perde sodat die magtige waters opbruis, net soos destyds by die Rietsee met die uittog uit Egipte. Toe het Hy sy volk gered.

16. Toe ek hierdie dinge gehoor het, het ek aan die ruk gegaan en my lippe het gebewe omdat ek bang was. ’n Lam gevoel het oor my gekom en my bene het onder my padgegee. Ek het besluit dat ek rustig en stil sal wag vir die dag wanneer die Here se straf gaan kom oor die Babiloniërs wat Juda ingeval het.

17. My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie. Al dra die vyeboom nie vye nie en is daar nie druiwe aan die wingerd nie; al misluk die olyfoes en lewer die landerye geen oes op nie; of al vrek die skape en die beeskrale is leeg,

18. sal ek die Here met ’n hart vol blydskap dien. Ek het al ervaar hoe die Here my uit moeilike omstandighede red.

19. Die Here wat as koning regeer, gee vir my die krag wat ek nodig het. Hy maak dit vir my moontlik om probleme sonder moeite te kan hanteer. (’n Nota vir die afrigter van die koor: Snaarinstrumente moet saam met die gebed gespeel word).

Lees volledige hoofstuk Habakuk 3