Ou Testament

Nuwe Testament

Habakuk 1:3-10 Die Boodskap (DB)

3. Hoekom laat U my hierdie verkeerde dinge sien? Hoekom verdra U dit dat mense swaarkry? Waar ek ook al kyk, lê dinge verwoes. Dit is ’n wêreld vol geweld. Oral stry en baklei mense.

4. Mense steur hulle nie aan die wet nie. Die howe sorg nie dat wat reg is die wenner is nie.

5. Die Here het toe vir die mense van Juda gesê: Hou ’n bietjie die ander volke om julle dop. Ek het binnekort ’n groot verrassing vir julle. As iemand julle daarvan sou vertel het, sou julle hom nie geglo het nie.

6. Hier is dit: Ek maak die Babiloniërs die mag wat al die volke in die wêreld sal oorheers. Hulle reputasie is oral bekend, hulle is ’n wrede en woeste spul mense. Hulle stuur hulle soldate die wêreld vol en dan neem hulle lande in.

7. As mense net aan hulle dink, dan raak hulle bang en lam van vrees. Hulle is so arrogant, hulle maak hulle eie wette oor wat reg en verkeerd is.

8. Hulle soldate wat op perde ry, maak ook groot indruk. Hulle perde lyk so vinnig dat ’n mens die idee kry dat hulle vinniger as luiperds is en skrikwekkender as honger wolwe. Hulle ruiters kom van ver af aangejaag en sak dan nes arende soos blits op hulle prooi toe.

9. Hulle leërs het net een doel en dit is om mense links en regs dood te maak. Hulle ken net een rigting en dit is vorentoe. Hulle het al so baie mense gevang dat hulle te veel is om te tel.

10. Die Babiloniërs het respek vir niks en niemand nie. Hulle dryf die spot met konings en verkleineer regeringsleiers. Hulle laat hulle ook nie afsit deur die hoë veiligheidsmure wat om stede gebou is nie. Hulle hoop doodeenvoudig grond daarteen op en klim dan oor die mure en neem die stad in.

Lees volledige hoofstuk Habakuk 1