Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 30:30-43 Die Boodskap (DB)

30. Voordat ek hier gekom het, het jy nie veel gehad nie, maar toe het die Here jou ryk gemaak en baie besittings gegee. Wat ek ook al gedoen het, het jou net ryker gemaak. Nou het dit tyd geword dat ek vir my vroue en kinders moet sorg.”

31. “Hoeveel moet ek jou betaal?” het Laban gevra.“Niks nie,” sê Jakob. “Jy hoef my nie geld te gee nie. Daar is eintlik net een ding wat ek graag wil hê. En as jy dit gee, sal ek weer jou kuddes versorg.”

32. “Wat is dit?” het Laban gevra.Jakob het geantwoord: “Laat my vandag nog deur die kuddes loop en laat ek elke gespikkelde en gestreepte skaap, al die swart lammetjies en al die bokke met spikkels en strepe vir my vat. Dit sal dan my loon wees, niks meer nie.”

33. Jakob het voortgegaan: “Jy kan kom kyk of ek eerlik was. As jy deur my kudde loop, sal elke skaap of bok wat nie spikkels of strepe het nie, gesteelde diere wees. Elke lammetjie wat nie swarterig is nie, sal ’n dier wees wat ek van jou gesteel het.”

34. “Dis goed so,” het Laban gesê. “Maak soos jy wil.”

35. Laban het Jakob weer bedrieg. Hy het gou al die gespikkelde en gestreepte skape en bokke uit die trop geneem. Ook die swart lammetjies. Laban het toe hierdie diere bymekaargemaak en vir sy ander seuns gegee om op te pas.

36. Verder het Laban gesorg dat Jakob ver van sy seuns af bly. Hulle was drie dae se reis van mekaar af. Jakob was op ’n plek waar hy die res van Laban se kudde laat wei het.

37. Ver weg van Laban het Jakob sy eie ding gedoen. Hy het jong lote van populiere, amandel- en plataanbome gevat en dit afgeskil totdat daar sulke wit strepe op die lote was.

38. Hy het toe die lote met die wit strepe by die waterplekke gesit. As die vee kom suip het, was die lote reg voor hulle.

39. Omdat die bokke en die skape by die waterplekke gepaar het, het Jakob hulle tussen die lote bymekaar laat kom. So het hy baie bokke en skape met spikkels en strepe gekry.

40. Die ooie het Jakob apart gehou en hulle by Laban se gespikkelde en gestreepte vee gebring. Op hierdie manier het Jakob vir homself ’n baie sterk kudde opgebou. Hy het hulle weggehou van Laban se vee.

41. Wanneer die sterk diere gepaar het, het Jakob die lote voor hulle in die krippe gesit en dit het hulle vrugbaar gemaak.

42. Maar hy het nie die lote by die swak diere gesit nie. Op dié manier het Laban die swakkes en Jakob die sterkes gekry.

43. Jakob het al hoe ryker geword. Hy het baie kleinvee, slavinne, slawe, kamele en donkies gehad.

Lees volledige hoofstuk Genesis 30