Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 30:23-37 Die Boodskap (DB)

23. Sy het ’n seun gehad en gesê: “God het my skande en vernedering weggevat.”

24. Sy het hom Josef genoem. Dit beteken: “Mag die Here my nog ’n ander seun ook gee!”

25. Na die geboorte van Josef het Jakob vir Laban gesê: “Laat my asseblief toe om na my ouerhuis en my land toe terug te gaan.”

26. Omdat ’n slaaf se familie die baas se eiendom was, het Jakob ook nog gesê: “Laat my ook toe om my familie saam te vat. Ek het hard gewerk vir hierdie vroue. En my harde werk het jou ryk gemaak.”

27. “Ja, dis waar,” het Laban gesê, “ek moet dit teenoor jou erken. Die Here het my as gevolg van jou ryk gemaak.

28. Daarom, Jakob,” so het Laban voortgegaan, “sal ek jou enigiets betaal as jy sal bly. Jy noem dit en ek betaal.”

29. Jakob het geantwoord: “Jy is reg. Ek was ’n getroue werker en ek het jou kuddes goed opgepas.

30. Voordat ek hier gekom het, het jy nie veel gehad nie, maar toe het die Here jou ryk gemaak en baie besittings gegee. Wat ek ook al gedoen het, het jou net ryker gemaak. Nou het dit tyd geword dat ek vir my vroue en kinders moet sorg.”

31. “Hoeveel moet ek jou betaal?” het Laban gevra.“Niks nie,” sê Jakob. “Jy hoef my nie geld te gee nie. Daar is eintlik net een ding wat ek graag wil hê. En as jy dit gee, sal ek weer jou kuddes versorg.”

32. “Wat is dit?” het Laban gevra.Jakob het geantwoord: “Laat my vandag nog deur die kuddes loop en laat ek elke gespikkelde en gestreepte skaap, al die swart lammetjies en al die bokke met spikkels en strepe vir my vat. Dit sal dan my loon wees, niks meer nie.”

33. Jakob het voortgegaan: “Jy kan kom kyk of ek eerlik was. As jy deur my kudde loop, sal elke skaap of bok wat nie spikkels of strepe het nie, gesteelde diere wees. Elke lammetjie wat nie swarterig is nie, sal ’n dier wees wat ek van jou gesteel het.”

34. “Dis goed so,” het Laban gesê. “Maak soos jy wil.”

35. Laban het Jakob weer bedrieg. Hy het gou al die gespikkelde en gestreepte skape en bokke uit die trop geneem. Ook die swart lammetjies. Laban het toe hierdie diere bymekaargemaak en vir sy ander seuns gegee om op te pas.

36. Verder het Laban gesorg dat Jakob ver van sy seuns af bly. Hulle was drie dae se reis van mekaar af. Jakob was op ’n plek waar hy die res van Laban se kudde laat wei het.

37. Ver weg van Laban het Jakob sy eie ding gedoen. Hy het jong lote van populiere, amandel- en plataanbome gevat en dit afgeskil totdat daar sulke wit strepe op die lote was.

Lees volledige hoofstuk Genesis 30